‘n Skok het leerlinge en personeel dié week ingewag toe hulle by hulle mooi, splinternuwe skool opdaag. Van die Maepa-laerskool op die R555 buite Ohrigstad, het Dinsdagoggend min oorgebly. Selfs die skoolhek is gesteel.
Die skool is goedgunstiglik deur ‘n wildplaas in die omgewing vir die swart gemeenskap opgerig. Die Hannah-wildplaas se vrygewigheid het nie verhoed dat die diewe die hele skoolgebou se dak afsteel nie. Die helfte van die nuwe aanbouing se dakke is ook afgehaal en weggedra.
Die geboue is slegs enkele weke gelede voltooi.
Behalwe die dakke en hek, is al die slotte ook gebreek en houtdeure is van kosyne afgesteel. Die vragmotor wat die gesteelde goedere kom oplaai het, het duidelike spore in die skoolterrein agtergelaat.
Die wildplaas het vroeër die maand onraad vermoed en die rekenaars vroegtydig verwyder uit die skool. Danksy hulle voorkomende maatreëls kon die diewe nie die rekenaars wegdra nie.
‘n Sinkgebou wat die voedingskema huisves, is ook geplunder. Die kruiwa, potte en panne is weggedra, tesame met die hele maand se kosvoorraad. Die skema is begin om honger swart kinders te voed wat glo nie kan konsentreer weens hongerpyne nie.
Die skoolboeke, wat glo betyds afgelewer is vir sekere vakke, is nou egter nutteloos, aangesien die boeke weens reënskade verwoes is.
Die wildplaas en ander donateurs het intussen weer ‘n gedeelte van die dakke vervang, maar die ouer deel van die skool is steeds dakloos. Nie die Onderwysdepartement van Limpopo of die Nooddiensbestuur stel belang om in te gryp by die skool nie.
Leerlinge bly tuis as dit na reën lyk en moet self vir kos sorg.
