Alle aanklagte teen ‘n boer van Aberdeen is Donderdag laat vaar. Hy is vroeër in verband met ‘n beweerde regse komplot in hegtenis geneem.
Aanklagte van hoogverraad en sameswering om terreurdade te pleeg, is tydens ‘n vlugtige hofverskyning teen die 31-jarige Louis Lategan teruggetrek.
Die staat het geen redes verskaf nie.
Lategan is sedert sy in hegtenisneming verlede week in aanhouding.
Vier ander regses is op Versoeningsdag verlede jaar in hegtenis geneem omdat hulle na bewering deel van die komplot was om ‘n eetsaal van die hooggeplaastes op die ANC se Mangaung-leierskonferensie in Bloemfontein op te blaas.
‘n Alternatiewe plan was glo om ANC-hooggeplaastes op kort afstand dood te skiet.
Van dié vier is net Hein Boonzaaier (50) van Centurion laat verlede week op borgtog van R80 000 vrygelaat.
Die aansoeke om borgtog van Martin Keevy (47) van Bloemfontein, Johan Prinsloo (49) van Naboomspruit (Mookghopong) en Mark Trollip (49) van Douglas het misluk.
Hulle moet weer op 25 Maart in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn.
