Plaas loonbeslissing op ys, vra TLU

Tydens TLU SA se dagbestuur is daar indringend besin oor die gevolge van die pas aangekondigde minimum lone deur die Minister van Arbeid.

TLU SA is van mening dat landbou hierdie lone nie kan bekostig nie, en dat die Minister moontlik bepaalde perke oorskry het met haar beslissing. Daar was ‘n reeds ooreengekome sektorale vasstelling wat geldig was vir drie jaar. TLU SA is van mening dat, behalwe vir geweld en intimidasie, daar sedert die vasstelling verlede jaar niks wesenlik verander het nie. Nietemin het TLU SA saam met ander landbou-organisasies toegestem tot ‘n verhoging van R80 per dag, wat ‘n styging van meer as 15 persent, oftewel byna drie maal die inflasiekoers, sou verteenwoordig. Die Minister se verhoging van bokant 50 persent is bo enige perk van billikheid en redelikheid.

Daarbenewens is die tydskaal wat gegun is om te besin oor die hele kwessie, ook nie redelik en billik nie met die gevolg dat die volledige impak daarvan op landbou nooit tot op die kern nagevors is nie.

TLU SA het op 15 November 2012, toe die eerste druk van ‘n verhoging van die lone ter sprake gekom het dit in skrywe aan die President en die Minister van Landbou (wat op daardie stadium die werkers ondersteun het) duidelik gestel dat daar eers ‘n hele paar sake is waaraan binne landbou aandag gegee moet word voordat daar oor die lone gepraat kan word. Geen reaksie is daarop ontvang nie en TLU SA stel dit onomwonde dat daardie eise steeds staan en nie weg geïgnoreer kan word nie. Dit moet steeds aangespreek word voordat oor die huidige buitensporige minimumloon enigsins ter sprake kan kom.

Die Wes-Kaap se model is nou van toepassing gemaak sonder om te let op die diversiteit van produkte, die diversiteit van streke en die individuele behoeftes en vermoëns van boere.

TLU SA het sy regspan opdrag gegee om alle opsies te ondersoek ten einde die aangekondigde minimumlone te wysig.

Ter wille van stabiliteit in die landbou, die belang van beide werknemers en werkgewers, asook volhoubaarheid en voedselsekerheid, word ‘n dringende beroep op die Minister van Arbeid gedoen om die inwerkingstelling van die minimumlone op ys te stel. TLU SA sal steeds boere adviseer om tot tyd en wyl alle kwessies opgelos is, hulle lone tot R80 per dag aan te pas.

Hierdie saak moet egter spoedeisend hanteer word. TLU SA verwag van die Minister om binne tien dae hierop te reageer, by gebrek waarvan TLU SA dan alle boere sal adviseer om binne die bepalings van tersaaklike wetgewing, spoedeisend stappe in werking te stel om hulle arbeidsmag aan te pas in ooreenstemming met hulle salarisbegroting, ten einde te kan oorleef sonder om voedselsekerheid in gevaar te stel. “As boere genoop word om werkers in daardie geval wel af te dank sal die impak daarvan baie groter wees as die afleggings van die myne, wat ook gevolg het op onrus en buitensporige salariseise,” waarsku TLU SA se president, mnr. Louis Meintjes.

топкарго отзывы

Maak 'n opvolg-bydrae