Die algehele gebrek aan sekuriteit by die Vlootbasis in Simonstad, het ‘n nuuskierige stapper en sy kamera tot teenaan die duikbote gelei waar hy aan een geraak het en lustig foto’s geneem het van die hele opset.
Die man wat nie sy naam genoem wou hê nie, sê hy het verby die verlate ingang gestap, en drie minute later was hy by die bote waar hy ten minste ‘n uur ongehinderd deurgebring het.
Hy het die foto’s van sy staptog aan die People’s Post oorhandig. Hy sê hy het dit gedoen om te wys dat veiligheidsmaatreëls by Simonstad nie bestaan nie. Daar was nie eens gewapende wagte nie. Hy sê hy kon dit skaars glo.
Wat hom nog meer ontstel is dat Simonstad die land se grootste hawebasis is en die operasionele hartklop van die hele vloot. Pikkie Greef, nasionale woordvoerder van die SANW, sê dié feite is skokkend.
Hy sê militêre basisse moet rondom die uur bewaak word. Daar is oorlogskepe, duikbote en allerlei militêre items wat opgepas behoort te word, wat wapens en gevaarlike ammunisie insluit.
Om die basis ombewaak te laat, skep ‘n risiko vir sabotasie asook ‘n gevaar vir die publiek en die manskappe op die basis.
Dis baie vreemd dat die regering nou met die Afrikanasies-sokkerbekertoernooi die buiteland ook verseker het dat veiligheid die hoogste prioriteit geniet.
Greef sê dis nie net ‘n kwessie van afwesige wagte nie, want die hele basis was verlate en sonder beskerming. ‘Duidelik is daar geen na-uurse veiligheidsplan nie of niks is geïmplementeer nie. Dis ‘n verleentheid vir die oppergesag op hierdie skaal en moet dadelik reggestel word,” het hy gesê.
‘n Lid van die Vloot by die basis sê die sekuriteit is “pateties” en net motors se kattebakke word halfhartig deursoek. Dis die heel maklikste om iets op die voorste sitplek van die motor deur te smokkel, het hy gesê.
