Treinbotsing: R22 miljoen se skade

Altesaam R22 miljoen se skade is aangerig aan die infrastruktuur en treine ná Donderdagoggend se treinongeluk in Kalafong.

Die kraglyne bo die treine is ook beskadig.

Sowat 300 mense, insluitende skoolkinders, is beseer nadat ‘n trein omstreek 07:00 van agter teen ‘n stilstaande trein gebots het.

Die drywer is omstreeks 09:00 per helikopter in ‘n kritieke toestand na die hospitaal geneem, het Johan Pieterse, woordvoerder van die nooddienste, gesê.

Pieterse het gesê 20 mense het ernstige beserings opgedoen in die ongeluk. Altesaam 150 ander mense het geringe beserings opgedoen.

Hy het vroeër gesê die spoorlyn tussen Cor Delfos en Saulsville is weens die ongeluk gesluit.

Dikobe Ben Martins, minister van vervoer, het vroeër die toneel besoek.

Treindienste het Donderdag weens die ongeluk by die Electro-stasie geëindig en ‘n busdiens is na en vanaf die Saulsville-stasie beskikbaar gestel.

Die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) het gesê kabeldiefstal is vroegoggend in die gebied aangemeld, maar die oorsaak van die ongeluk is nie bekend nie.

лобановский александр харьков

Maak 'n opvolg-bydrae