“Mense voel dat wit Suid-Afrikaners geen poging aanwend om Afrikatale te praat nie.
“Daar is woede onder sommige mense daaroor,” het sy in Johannesburg gesê. Duarte was ‘n gasspreker by die Ahmed Kathrada-stigting.
Die stigting het navorsing gedoen onder ANC-lede oor wat nie-rassigheid beteken en ‘n verslag daaroor vrygestel: “Die ANC: Steeds ‘n tuiste vir almal?”
“Op die oomblik is daar ‘n element van onverdraagsaamheid. Mense is nie bereid om na mekaar uit te reik en te probeer om ander Suid-Afrikaners se taal te praat nie.”
Duarte het gesê taal is een van die rasgrense wat wittes sal moet oorsteek om ‘n nie-rassige samelewing te kan skep.
“Dit is korrek om van die ANC te verwag om ‘n nie-rassige samelewing te skep, maar mense vanuit verskeie platforms is nodig om ‘n nasie te bou.
“Dit moet begin by ons kinders; waar hulle leef en speel en woon.”
Een van die besluite van die Mangaung-konferensie in Desember 2012, was om leerlinge teen 2014 landwyd te verplig om ‘n inheemse Afrikataal tot in matriek te neem.
Die party hoop om sodoende sosiale kohesie te bevorder.
Die stigting se navorsing toon dat mense die idee van nie-rassigheid ondersteun, maar fisieke en denkbeeldige rasgrense verhoed egter nouer intergrasie, het Duarte gesê.
