Nog een vas vir terreurkomplot

Nóg ‘n man is in hegtenis geneem in verband met ‘n terreurkomplot, is Donderdag berig.

Die 31-jarige man sal Donderdag op aanklag van hoogverraad in die Bloemfontein-landdroshof verskyn, berig Volksblad.

Voorlopige inligting dui daarop dat die 31-jarige boer van Aberdeen, wat vandeesweek in sy distrik in hegtenis geneem is, verantwoordelik sou gewees het om brandstofopgaartenks in Port Elizabeth op te blaas, het brig. Billy Jones, kommunikasiehoof van die Vrystaatse polisie, by navraag gesê.

Vier ander regses wat glo ook deel van dié komplot was, moet weer op 25 Maart in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn.

Hulle is op Versoeningsdag verlede jaar in hegtenis geneem omdat hulle na bewering deel van die komplot was om ‘n eetsaal van die hooggeplaastes op die ANC se Mangaung-leierskonferensie in Bloemfontein op te blaas.

‘n Alternatiewe plan was glo om ANC-hooggeplaastes op kort afstand dood te skiet.

Van dié vier is net Hein Boonzaaier (50) van Centurion laat verlede week op borgtog van R80 000 vrygelaat.

Die aansoeke om borgtog van Martin Keevy (47) van Bloemfontein, Johan Prinsloo (49) van Mookghopong (Naboomspruit) en Mark Trollip (49) van Douglas het misluk.

Фильчаков

Maak 'n opvolg-bydrae