Opspraakwekkende beeldmateriaal is deur ‘n Britse televisiekanaal uitgesaai wat meer perspektief op die slagting by Marikana gee en waarskynlik die Farlam-kommissie van ondersoek na die gebeure sal beïnvloed.
Die beelde ondermyn verklarings deur polisiebeamptes dat hulle in selfverdediging opgetree het tydens die skietery.
Die skietery verlede jaar het tot die dood van 34 mynwerkers gelei en was wêreldnuus.
Die nuwe beeldmateriaal wys hoe talle mynwerkers ‘n “paar honderd meter weg” van die media af dood is, het Channel 4 berig.
Channel 4 News het dié beelde wat na bewering op 16 Augustus 2012 deur twee polisiebeamptes met hul selfone opgeneem is, bekom.
“Die [mynwerkers] het daarheen [in die rigting van die media] gevlug na die aanvanklike skietery, om skuiling te soek,” verduidelik die verslaggewer in die insetsel.
In die polisievideo kan gehoor word hoe ‘n stem uitroep, “Wag, moenie skiet nie! Moenie skiet nie!”. Dis vermoedelik die stem van ‘n mynwerker wat pas by die polisie verbygehardloop het. Skote klap enkele sekondes later.
Die beampte wat die video neem loop dan na waar ‘n man bewegingloos op die grond lê. “Daai motherf****r. Ek het hom ten minste 10 keer geskiet,” sê een van die beamptes in die video. Die beampte praat met ‘n bruin aksent.
Die slagoffer word later as ‘n 26-jarige mynwerker geïdentifiseer wat 12 keer geskiet is.
‘n Verklaring deur die departement van justisie sal volgens Phuti Setati, sekretaris van die Marikana-kommissie van ondersoek, op die regering se kommunikasiewebwerf gepubliseer word.
