Die voormalige ANC-jeugligapresident – nog altyd omring deur sy lyfwagte, moes glo aan sy beskermers sê dat hy dit nie meer kan bekostig om hulle te betaal nie.
Die Sunday Independent berig dat hy hulle in harde kontant betaal het nadat een van sy vennote die oordrag van hul salarisse gestaak het.
Dit is bevestig deur ‘n Limpopo-regeringsamptenaar naby aan Malema en ander onafhanklike bronne wat nie hul name genoem wil hê nie.
Nog ‘n bron wat vertroud is met Malema se huislike omstandighede, het egter aan The Sunday Independent gesê dat Malema nie meer wagte nodig het nie.
“Hy is nie meer in die kollig nie, hy woon nie hoë-profiel-vergaderings meer by nie. Die wagte kom na sy huis in die oggend sonder ‘n werklike werk.”
Die Limpopo-amptenaar het gesê Malema was gaaf met hulle. Hy was eintlik simpatiek. “Hy was blykbaar bekommerd oor hul verblyf,” het die amptenaar gesê.
Malema wou nie kommentaar lewer nie.
Sy veiligheid is in 2009 opgeskerp toe hy doodsdreigemente ontvang het, met tot vyf beskermers, maar hulle is die afgelope tyd verminder tot twee lojale wagte.
Aanvanklik het hy twee polisielyfwagte gehad wat die belastingbetaler meer as R800 000 ‘n jaar gekos het. Maar die polisie het die wagte onttrek ná sy aanvalle op President Jacob Zuma in 2011.
Malema het daarna twee persoonlike beskermers gehuur, betaal deur sy sakevennote.
