Die onlangse staking by die Dairybelle-kaasfabriek se stoor in Bloemhof asook brandstigting, het verder gelei tot die intimidasie van ‘n plaaslike wit sakeman.
Sewe verdagtes het intussen verlede Woensdag in die landdroshof op Bloemhof in Noordwes verskyn op aanklagte van openbare geweld en opsetlike saakbeskadiging na aanleiding van die staking.
Die verdagtes is aangekeer nadat een van die onderneming se afleweringsvoertuie met klippe en ‘n petrolbom bestook is.
Die skade van ‘n brand by ‘n pakhuis beloop tussen R5 miljoen en R10 miljoen. Weens die staking kon verskeie aflewerings nie betyds gedoen word nie.
‘n Inwoner wat onskuldig met sy bakkie daar verby gery het, is ook tydens die oproer met klippe bestook. Volgens bronne was hy goed gewapen en het die stakers laat verstaan dat hy nie intimidasie sal duld nie.
Sy bakkie is egter in die proses verwoes. Volgens die man is die polisie traag op die saak wat hy aanhangig gemaak het ivm sy beskadigde eiendom op te volg.
Die voertuig se eienaar het ‘n saak teen 200 betogers asook die vakbond aanhangig gemaak.
Die polisie is glo bang om die saak te hanteer uit vrees vir verdere geweld terwyl die stakers gedreig het dat hulle die hele sakekern van Bloemhof wil afbrand.
