‘n Swart mag in Afrika: Africom

Die Britse premier David Cameron, het dié naweek dit duidelik gemaak dat “die Weste vir dekades lank in Noord-Afrika teenwoordig sal moet bly” om probleme in die streek die hoof te bied.

Wat eers gelyk het na uitsluitlik ‘n Franse uraanbeheer-kwessie met die eise van Islamiste in Mali, het pas uitgebrei na Algerië toe ‘n eenoog-krygsheer Britse belange van die oliereus BP onder druk geplaas het met ‘n aanval op een van hulle petroleumaanlegte in die suide van die land, en op die koop toe die Franse militêre teenwoordigheid in Mali as rede aangebied het.

Dis trouens dalk nie eens uraan óf olie wat die konflik aanmoedig nie. Volgens die VN-kantoor vir die Beheer van Verbode Middels, word 60% van Europa se kokaïen deur Mali vervoer. Met die hoë pryse wat op straat in Parys se geld, is dit seker die moeite werd om meer as $11 miljard se handel te beheer.

Al glo die voormalige koloniale magte dat hul toewyding aan “nie-rassige harmonie” aanklank sal vind by die vele plaaslike bevolkings wat soewereine regte oor minerale hulpbronne kan uitoefen, dui die mees onlangse verwikkelinge dat anti-wit sentimente nie eersdaags gaan verdamp nie. Die Franse is reeds ‘n paar jaar gelede deur ‘n soortgelyke oefening in die Ivoorkus, waar hulle operasie Licorne swart faksies teen die koloniale wit heerser verenig het.

Wat is dan die rol wat die VSA op die vasteland met Africom wil speel?

Ontsnapte swart slawe het aan die Britse kant geveg tydens die Amerikaanse Rewolusie, wat beloof het om hulle te bevry. Tot 30% van slawe het tydens die oorlog in die Suide gedros om by die Britte aan te sluit en plantasie-eienaars het hul bedrywe tot niet sien gaan in die chaos wat die Britte met hul beloftes geskep het.

Afro-Amerikaners is weer ingesluit in die VSA se militêre magte tydens die Tweede Wêreldoorlog, in gesegregeerde eenhede, en dikwels in eenhede waar hulle agter die linies moes diens doen. Die voorwendsel was dat hulle nie sou kon veg nie en liefs nie sulke ervaring moes opdoen nie.

Soos ‘n Afro-Amerikaanse soldaat in 1942 dit self treffend opgesom het: “Laat my grafsteen lui: Hier lê ‘n swart man wat gesterf het om teen ‘n geel man te veg vir die beskerming van die witman.” Die swart soldate het nooit gevoel dat hulle in ‘n stryd vir hul eie voortbestaan betrokke is nie.

Rassegroepe in die Amerikaanse weermag was eers geskei. Franklin D. Roosevelt het tewens daarop aangedring dat swartes nie meer as 10 persent van die mag uitmaak nie en streng in gesegregeerde eenhede dien.

As Afro-Amerikaanse soldate in die Tweede Wêreldoorlog nie die Duitsers of die Japannese moes trotseer nie, was die grootste risiko steeds gewelddadige aanranding deur wit Amerikaanse soldate. In Guam het Amerikaanse bevelvoerders toegelaat dat wit troepe voorberei vir die aanvalle op Japannese magte deur lewendige handgranate op swart soldate te gooi.

In April 1945, is sestig swart offisiere wat ‘n verbod op die gebruik van ‘n wit offisiersklub uitgedaag het, in hegtenis geneem. Nog twee sulke probeerslae het elke keer met arrestasies geëindig.

Ten spyte van die afkeer teen hulle, is Afro-Amerikaners buite verhouding in die weermag verteenwoordig. Dit is en was die beste beskikbare manier om ‘n salaris of enige soort geskoolde werk te bekom.

In 1948 het A. Phillip Randolph die Amerikaanse Senaat sarkasties gewaarsku dat “die Kongres en die Amerikaanse volk deur steeds Jim Crow te aanvaar, ‘n massa burgerlike ongehoorsaamheidsbeweging in die trant van die pragtige stryd van die Indiese volk teen die Britse imperialisme, in die gesig kan staar.”

Met die oorlog in Suid-Korea, is na integrasie oorgeskakel en rassekwotas is afgeskaf. Met die toetrede van swartes, het die gewetensbeswaardes onder hulle ook toegeneem.

Viëtnam was dieselfde verhaal: Steeds meer Afro-Amerikaners in die weermag, en nog sterker aktivisme daarteen. Tussen 1966 en 1971 het 400 000 Amerikaners in die weermag gedien, 40 persent van hulle Afro-Amerikaans.

Die ironie is dat Afro-Amerikaners buite verhouding gekant is teen oorloë, maar eweneens in groot getalle – heeltemal buite verhouding tot hul demografiese profiel – in die weermag dien. Iets wat soortgelyk is aan hul blinde lojaliteit jeens die Demokratiese Party.

Met ‘n wit Republikeinse president wat die eeuwending se groot oorloë gelei het, het die rassekwessie nóg neteliger geraak. Tussen 2000 en 2005 het swart indiensneming in die weermag met 40% gedaal, en swart teenwoordigheid in die militêre magte met 25% gekrimp. Hierdie tendense het in 2008 egter met die koms van ‘n swart president omgeswaai.

Miskien is dit die ekonomie se skuld. Miskien is dit wanpersepsies dat die oorlog verby is. Of miskien is dit dat die 2009-Nobelprysontvanger vir Vrede baie na hulle lyk, al maak hy steeds onverpoos oorlog.

Die VSA se militêre magte is tans met die uitbreiding van Africom op Afrika gerig. Natuurlik is die VSA ook op Asië en die Midde-Ooste gefokus, maar in Afrika gaan swart Amerikaners dalk huiwer om hul swart broers aan te vat. Sal die ander twee fokusgebiede ‘n swart muitery oorleef?

Die man wat die staatsgreep in Mali gelei het, is kapt. Amadou Haya Sanogo. Hy het sy vier maande lange basiese infanterie-opleiding in Fort Benning, Georgia, met komplimente van die Pentagon in 2010 verrig. Dis sommer nou die dag nog.

Sanogo is ook deur Africom opgelei, onder leiding van die State Department se “Trans Sahara Counter Terrorism Partnership”-program en die Pentagon se “Operation Enduring Freedom”. Wat Mali betref, is hy dus die spreekwoordelike “bestendige bondgenoot”. Die probleem bly steeds dat hy die belange van ‘n wit land op ‘n swart kontinent verteenwoodig.

данильченко юрій Харків

Maak 'n opvolg-bydrae