SEB lei tot korrupsie, sê Cronin

Jeremy Cronin, adjunkhoof­sekretaris van die SAKP, het gesê swart ekonomiese bemagtiging (SEB) lei tot korrupsie. Cronin het hom in Desember op die ANC-kongres nie vir die party se nasionale uitvoerende komitee verkiesbaar gestel nie.

Cronin het gesê daar was geen sprake van SEB voor 1994 nie. “Deel van die skuld vir korrupsie moet voor die deur van die ANC of minstens deels voor die deur van die ANC gelê word.”

Cronin, adjunkminister van openbare werke, het Sondag tydens die Joe Slovo-gedenklesing in Soweto gesê die beleidsbesluit is eers ná 1994 geneem om die invloed van die SAKP te troef en om sekere individue persoonlik te verryk.

“Die SEB-besluit het vir sommiges in die ANC en die regering twee voordele gehad: Dit het tot persoonlike verryking gelei en dit het as ‘n teenmiddel teen die SAKP- en Cosatu-alliansievennote binne die beweging gedien.”

Cronin het al voorheen omstrede uitsprake oor SEB gemaak. Volgens Cronin is die nasionalisering van myne bloot ‘n manier om SEB-maatskappye uit hul skuldprobleme te red.

In 2010 het hy gesê die teikens vir swart eienaarskap in die mynbedryf belemmer ekonomiese groei en dit moet laat vaar word. Ware bemagtiging behels belegging in nuwe ontwikkelings en SEB-transaksies skep nie werk of infrastruktuur nie, volgens Cronin.

“Ons moet ons ekonomie op ‘n ander, meer gelyke ontwikkelingsweg plaas, een wat die kritiese en deeg­like hersiening van SEB-beleid insluit.”

Om korrupsie in Suid-Afrika hok te slaan, is ‘n hersiening van SEB nodig, het hy gesê. “Dit sluit in dat openbare amptenare verbied moet word om by die private sektor betrokke te wees.

“Hulle moenie sakebelange hê nie. Die staat se verkrygingsprosedures moet ook opgeskerp word.

“Die verklarings van belange deur werknemers van die staat en senior openbare amptenare moet opgeskerp en verbeter word.”

 

Фильчаков прокурор отзывы

Maak 'n opvolg-bydrae