Beeld berig dat David Hamman vir sy meestersgraadstudie in omgewingswetenskappe beesniere ontleed het en die uraanvlakke daarin was 4 350 keer hoër as dié van beeste in ‘n kontrolegroep.
In sy studie, A Holistic View on the Impact of Gold and Uranium Mining on the Wonderfonteinspruit, skryf Hamman sy navorsing het getoon die diere neem hoofsaaklik uraan, lood en sink in deur die gras wat hulle langs die Wonderfonteinspruit vreet.
Dit is bewys daarvan dat dié swaar metale in die gras bio-akkumuleer. Die beeste het weer die nikkel en kobalt ingeneem deur grond wat hulle soms saam met die gras inkry.
Volgens Hamman is hoë konsentrasies lood in die besproeide landerye langs die Wonderfonteinspruit gekry – tot soveel as 17,3 hoër as dié by die Mooirivier.
Hy het ook ‘n risiko-analise gedoen vir mense wat beesvleis eet. Hy het gevind geen gevaar bestaan as mense daagliks 0,13 kg van die vleis afkomstig van die Wonderfonteinspruit-gebied sou eet nie.
Die Wonderfonteinspruit vloei naby Randfontein vir sowat 90 km deur ‘n gebied waar die rykste goudneerslae ter wêreld is.
