Die Vrystaatse polisie sê egter die vier mense wat in hegtenis geneem is, is nie gekoppel aan die ANC se konferensie in Mangaung nie.
“Nee, op hierdie stadium het ons nie ‘n skakel tussen enige van die arrestasies met die konferensie hoegenaamd nie,” het woordvoerder Brigadier Billy Jones gesê.
“Die optrede van hierdie verdagtes was landwyd.”
Hy het bevestig dat slegs vier mense in hegtenis geneem is.
Die polisie het glo bewyse van onregmatighede op hul eiendomme gevind gedurende die klopjagte wat uitgevoer is.
Die nuutgestigte Federale Vryheidsparty sê minstens twee van die vier regsgesindes wat gister in hegtenis geneem is op aanklagte van beweerde terreur, is lede van dié party.
Die nasionale sekretaris van die FVP, Francois Cloete, sê die party se president en ‘n lid van hulle uitvoerende raad is op Naboomspruit, in Limpopo in hegtenis geneem.
Cloete sê die Federale Vryheidsparty streef na selfbeskikking van die Afrikaner en Boerevolk in ‘n konfederale politieke bedeling.
Die Vrystaatse polisiewoordvoerder, Brigadier Billy Jones, het vroeër gesê hulle verwag om nog mense in hegtenis te neem. Twee van die vier mans is in die Vrystaat in hegtenis geneem. Hulle sal binnekort in die hof verskyn.
