Hoe skakel Johannesburg in by ‘n internasionale politieke intrige wat van Helsinki tot Washington strek? Die rykste, grootste en mees kosmopolitiese stad in Suid-Afrika is ook waar eienaarskap van die Donker Kontinent se ryk grondstowwe deesdae onderhandel word.
Die jong spioen Kai Brugman staan midde-in hierdie spannende vertelling van belangegroepe wat aan die wedywering om rykdom en invloed deelneem. Die leser word op ‘n opwindende, intrigebelaaide reis geneem wat tot ‘n naelbyt-einde in die Bosveld voortsnel.
Wat gaan daar in Arcadia werklik in die kelderverdieping van van die Amerikaanse ambassade aan? Hoe gemaak as ‘n spioen se elektroniese hulpmiddels ingee? En die media? Waar pas hulle in? Gaan die KERN-netwerk oopgevlek word, of is die skrif aan die muur?
‘n Riller wat niemand sal neersit nie: Duiwelsasem. Tergende vrae, met verrassende antwoorde.
Bestel by die PRAAG-winkel of stuur vir ons ‘n e-pos by inlig@praag.org. U kan die e-boek in drie formate (PDF, Epub en Kindle/Mobi) in u e-pos ontvang of ons winkel sal vir u die aflaaiskakels stuur. Só maklik is dit!
ISBN 978-1-920128-15-9
Titel: Duiwelsasem.
Outeur: Karin Roodt.
Ongeveer 70 000 woorde.
Prys: R100 (BTW ingesluit).
Publikasiedatum: 18 Desember 2012.
Uittreksel
Daarsy! Hy maak die berig oop. Net toe die berig aanlyn verskyn, hoor hy die sonoriese stem van die mooi blonde nuusleseres met die deftige Engelse aksent wat die kykers oor die dood van die president van ’n klein Afrikaland by die mere inlig… ’n hartaanval. Kai sit die tabletrekenaar dadelik neer en kyk op na die TV-skerm. Daar sal ’n nadoodse ondersoek wees, verklaar die ernstige blonde nuusleseres om die berig af te sluit voordat sy na die volgende item oor die Olimpiese Spele oorslaan en wegkyk na ’n ander kamera in die nuusateljee. Kai kyk vir oulaas na haar volmaak gegrimeerde, parmantige mondjie terwyl hy die nuus inneem. Hy staan vir ’n oomblik met sy arms oor sy bors gevou.
Toe tel hy weer die tablet op en begin die berig lees. Aan ’n hartaanval… die visepresident sal die tussentydse regering lei… onverwagse dood. Hy was ’n uiters gewilde president.. Die land is in rou gedompel… Daar sal ’n nadoodse ondersoek wees om die oorsaak van sy skielike afsterwe vas te stel.
Kai draai om en stap na die groot slaapkamer, verby die onopgemaakte koningsgrootte bed en maak die donker ebbehoutkasdeur oop. Hy haal ’n swart katoenhemp van die hanger af, tesame met ’n swart jean. Voor hy die knope vasmaak, spuit hy genoeg Franse reukweerder aan vir die kroeg by die vyfsterhotel waarheen hy oppad is. As hy die duur gordel uiteindelik deurgeryg en vasgegespe het, skakel hy die kamerlig af, stap uit en krap sy sleutels onder die hoop onoopgemaakte briewe op die tafel in die ingangsportaal uit. Sy voete glip in sy leerskoene in. Die elektroniese skyfie in sy skouer is ’n sagte groen liggie op die GPS-toestel in die donker vertrek op die vloer net bokant sy nou ewe donker woonstel.
Met sy motorfietssleutel in sy agtersak en sy foon in sy linkerhand, trek hy die deur van 607 agter hom toe. Vanaand gaan hy nie geslaap kry nie, dink hy mismoedig. Sterk koffie en ’n energiedrankie of twee sal die volgende vyf ure draaglik kan maak. Dis nou al 18 uur sonder slaap. Hy sal van alkohol moet wegbly.
Nie dat hy omgee nie. Hy drink nie graag nie. Maar wie wil nou in die geselskap van ’n groenteedrinker ’n gesellige aandjie by ’n gesogte kroeg deurbring? Die kuns gaan wees om te lyk asof hy ’n drankie net soveel soos die kroegvliëe daar geniet. Hy druk die knoppie van die hysbak en haal diep asem. Hy is haastig. Hy het ’n venster van 15 minute om sy verskyning by die kroeg te maak en met die slakkegang van Sandton se aandverkeer is die rit ten minste 20 minute ver. Op sy selfoon tik hy die kode in om te wys dat hy die laaste boodskap ontvang het. Hy onderdruk ’n lang gaap. Hy hoop Niel is wakkerder as hy. Hy staal homself teen die onafwendbare spertyd wat hard in sy kop begin aftik het.
* * *
Niel Steiner se blink, bruin kuif hang in sy oë. Die rubberband van die Peak A40D sit effens styf en hy verstel die lens en knip sy oë toe hy sy kop agteroorgooi om beter na die skerm bokant sy werkbank te kyk. Hy lyk soos ’n hedendaagse seerower met sy swart alluminiumoogstuk van bikonvekse wit glas waardeur hy al die afgelope uur in kille konsentrasie na die stel ratjies en veertjies onder die helder lampkol gegluur het.
’n Klein groen liggie flits op die GPS-skerm. Niel knip weer sy oë toe hy die reëlmatige gebiep hoor. Die liggie kronkel stadig noordoos. Dan verskyn koördinate van die eensame groen kolletjie se eindbestemming op ’n grys matriks. Die wekker onderaan die skerm rol verwoed teen tyd. Soos sandkorrels uit ’n baie vinnige uurglas, dink Steiner. Kai het die boodskap gekry. Hy het 13 minute oor. Sy aankomstyd sal twee minute, sewe-en-dertig sekondes te laat wees, wys die tuimelende syfers op die rekenaar. Drie minute te laat. Die groen kolletjie staan stil. Niel trek sy asem in.
Hy haal die Peak-horlosiemakerslens met ’n behendige haal van sy regteroog af en kyk stip na die groen liggie. Dit staan stil. Hy voel hoe sy maag draai. Wat op aarde kan dit wees, wonder hy? Kai moet vier blokke van die kroeg af wees. Dis by die T-aansluiting van Sandtonrylaan. Kan nie ’n stukkende robot wees nie, want die verkeersligte daar word deur sonpanele wat batterye laai van krag voorsien. Dit werk altyd.
Niel leun vorentoe en stel die frekwensieknop van die polisieradio wat regs van die skerm op die boonste rak geïnstalleer is, fyner in. Die sein knetter die besonderhede van die ongeluk oor die eter in die klankdigte kamer met vensters wat geen lig deurlaat nie. Taxi en ’n vragmotor waarvan die remme op die afdraande onklaar geraak het. Drie ambulanse op die toneel, klink dit, en nog op pad. Dis Johannesburgse spitsverkeer. En Kai sit vas.
Die jong vrou in die rooi Jetta ruk soos sy skrik toe die motorfiets sentimeters van haar vensterruit af op ’n agterwiel verbyflits. Die bestuurder loods sy ysterperd behendig oor die middelman en jaag ’n paar meter reg in die aankomende verkeer in voor hy uitswenk na die middel van die pad en teen die bult met die wit streep opjaag. Die skielike oorverdowende bromgeluid neffens haar was onverwags genoeg dat sy instinktief na die passasierskant van die motor met haar elmboog ter verdediging gelig, oorgeleun het. Sy kyk ’n paar oomblikke ergerlik die motorfiets wat stroomop teen verkeer opjaag agterna en draai dan terug om weer na die ongelukstoneel te kyk. Sy skakel die motorradio af en ry stadig in stilte verby die rooi flitsende ligte van die ambulanse, versigtig om nie, nes die ander motoriste, die grutoneel mis te kyk nie.
Kai voel hoe die minute wegtik; hy draai die petroltoevoer vol oop en klik deur die motorfiets se ratte. Die voorwiel lig vanweë die skielike krag. Hy weet nie presies hoe laat hy gaan wees nie, maar hoe minder hy daaraan dink hoe beter. Dansky die verkeer wat stilstaan, steek hy ’n rooilig oor en draai links af. Die kroeg is in sig. Hy sien die systegie van die parkeergarage-ingang. Die laaste paar meter na die hoek van die kroeg hardloop hy langs die fiets voordat hy op die sypaadjie tot stilstand kom en die ruspen van die fiets uitskop. Die glassydeure staan oop.
Sy geluk! Die ses mense by die tafel naaste aan hom het opgestaan en maal om ’n kelner wat nie met die regte rekening opgedaag het nie. Die ses Nigeriërs in hul duur ontwerpersuitrustings is groot genoeg om as skans te dien. Teen R5 000 per tafel per aand gemiddeld, het die drinkers waarskynlik rede om ongelukkig te voel as die bedrag nie klop nie. Kai omhels die bedrukte kelner in die verbygaan. Sy motorfietshelm het hy oor die handvatsel laat bly hang nadat hy lank genoeg in die oë van die parkeergaragewag gekyk het om hom te laat verstaan dat hy weet hy los die ding daar.
Sy geluk hou. By die kroeg staan Babsie. Hy peil reguit op haar af.
Kai het geen idee wat Babsie se regte naam is nie. Hy noem haar so omdat sy hom aan die perdebylyfie en opgepofte hare van ’n strokieskarakter uit die Sondagkoerant laat dink wat sy stiefpa altyd met genoegdoening voorgelees het. Babsie is ’n gereelde besoeker aan die kroeg waar sy haar voornemende kliënte ontmoet en die verhouding tussen prys en diens met hulle bespreek sodat sy haar verslawing kan voed. Babsie se Engels vertel sy is Afrikaans.
«Ek is so dronk soos ’n tor,» sê Kai. Babsie kyk na haar selfoonskerm, gewoond aan lastige, dronk mans. Sy lyk nie opgewonde om Kai te sien nie. Haar lang naels beweeg oor die toetse. Kai druk deur.
«En jy kan dit nie ruik nie.» Sy kyk gesteurd op. «O?»
«Nee, genuine! Ruik bietjie.» Babsie glimlag effens. «Genuine?» sê-vra sy en skuif haar kougom na die ander kies.
Sy leun oor na hom om haar lae hals beter te vertoon eerder as om die drank op sy asem te ruik. Sy lyk geoefen in die gebaar. Hy laat niks blyk dat hy iets opgemerk het nie en speel verder dronk.
«Dis die wonderwerk van gin,» sê hy met ’n selfvoldane stem en gebruik die kroegtoonbank vir sy kruk en swik gemaak sy kniëe.
Babsie tik verder op haar selfoon, haar aandag weer elders nadat die geheim van dranklose asem skynbaar ten volle opgelos is. Sy hou die selfoon na hom uit. Hy lees die boodskap. «Ek soek poeier vir my neus,» herhaal sy saaklik wat sy getik het.
«Maar nou’s ek naar,» sug Kai, nie heeltemal onopreg nie. Babsie staan ’n goeie tree van hom af weg en kyk by voorbaat sylangs af na haar goue skoene. Nee wat, dink sy, hierdie een gaan nie iets oplewer behalwe moeilikheid nie. Sy knik skuins vir die kroegman in Kai se rigting. Hoe lank sit hy nou al hier en drink? Dis so besig, sy het hom nie tot nou toe opgemerk nie. Sy moet volgende keer beter oplet, dink sy. Sy kon hom dalk vroeër, voordat hy so erg gesuip geraak het, aangekeer het.
Uit die hoek van sy oog sien Kai die swart man met die streepbaadjie. Hy was betyds, dink hy verlig. Die gesette Venda wil opstaan. Kai los sy toonbankkruk, steier byna direk agteruit teen die tafel vas en stamp teen die man. «Ek is naar!» sê hy weer, harder in Afrikaans en sit sy hand oor sy mond. Die eienaar van die streepbaadjie klou aan die stoelrug om nie sy ewewig te verloor nie en ruk hom vir die onbeskofte, dronk Boer op.
«What!?» sê hy kwaad. «You bumped me,» asof Kai dit nie reeds weet nie. Hy protesteer verder in Zoeloe. Die effek wat Kai se lompheid veroorsaak, is presies wat hy wou gehad het. «Sorry, sorry,» mompel hy en probeer nog dronker klink. «I drank cabbage-flavoured gin. Delicious! But I had a bit too much. Hard to stop it’s sooo good. Have you tried it?»
«No, I haven’t and get out of my way! Soeka!» Streepbaadjie trek ’n vies gesig en besluit om met sy waardigheid uit te stap aangesien geen van sy onderdane naby is om Kai te takel nie. Die luide onderonsie en meubels wat teësinnig rondgeskuif het, het al die oë in Kai se rigting gedraai.
Die kroegman loop om sy toonbank. «I think you’ve had enough» Hy help Kai sonder seremonie na die sypaadjie waar hy hard naby sy oor sis dat hy nie weer gou hoef terug te kom nie. As hy links kyk, sien hy die tevrede gesig van Mafudi wat sy chauffeur naderwink, die swart Mercedes 500S se deur self oopmaak en met streepbaadjie en al agter die getinte agterruit verdwyn. In die weerkaatsing van die verbygaande Mercedesvenster sien hy die blou neonkroeguithangbord vir oulaas. Wine Bar. Hy draai om en stap na sy motorfiets toe waar die helm nog steeds hang. Hy knik dankbaar vir die parkeergaragewag, skakel aan en ry weg soos hy gekom het.
By die rooi en geel Shellgarage draai Kai af, hou voor die winkel stil en haal sy helm af. Hy stap in en loop na die yskaste agter waar hy ’n oranje blikkie uitvis. Voor hy vir die energiedrankie betaal, trek hy al die ringetjie terug en neem ’n lang teug. Al drinkend stap hy terug na die fiets en sit die blikkie op die sitplek neer om sy selfoon uit te haal. Dan SMS hy: «Babsie.»
* * *
Bokant Niel se werkbank staan die leuse: The Watchmaker: Mind to Conceive, Eye to Perceive, Hands to Achieve. Hy trek die OptiVISOR nader nadat hy die boodskap gelees het en verstel die ligkol effens. Hy buk weer oor die stel instrumente. Die bliksem, dink hy. Dit was amper-amper. Wat de hel beteken «Babsie»? Kort voor lank is hy egter opnuut in sy werk verdiep soos vroeër vanaand. Hy draai die OptiLOUPE se skyfie oor die lens voor sy regteroog en vergeet vir eers van Kai. Die groen liggie op die GPS-skerm biep 607 in ’n suidelike rigting. Johannesburg se verkeer haal weer asem. Dis donker. Die motorfiets brom teen 80km per uur by Jan Smutslaan se laaste bult op.
KERN se hoofkwartier is in Rosebank in ’n nuwerige kantoorgebou op die boonste negende vloer geleë. Op die glasdeure net langs die hysbak staan S’bu Dlamini Cleaning Services in lelike groen en geel letters groot oor twee deure geskryf. Niemand verneem ooit na S’bu se sake nie en self het hy seker al vergeet van die onderneming wat hy destyds, 10 jaar gelede, met ’n skenking van een of ander oorsese Samaritaan begin het. Die foyer is alles behalwe skoon, wat daartoe bydra dat die belofte van ’n selfs net gangbare skoonmaakdiens al hoe verder in die verskiet verdwyn. Die span onder leiding van Beert Deseke is tevrede met dié stand van sake en in die drie jaar wat hulle daar werk, was daar nog nie ’n enkele navraag nie.
Rosebank is soos die middestad van Johannesburg: ’n Bont laslappie van voorspoed en verval. Hier en daar is ’n deftige gebou, duur motorhandelaar of kunsgalery tussen die leë kantoorgeboue en verslete leë winkelsentrums met songebakte te-huurpapier oor die vertoonvensters geplak. Die strate is vuil en kikoejoegras groei plek-plek deur die sementblokke waaroor helder Simbaskyfiepakkies en kitskospapiere soms met Hoëveldse windvlae heen ritsel.
KERN is ’n voortsetting van SS15, ’n hoogs geheime internasionale span operateurs waarvan Kai se oupa deel was. Ná die einde van die Koue Oorlog en die ineenstorting van die Berlynse muur, is SS15 ontbind, maar dele van die netwerk het behoue gebly en eiedomme, dooie posbusse en ander bates is geherkonsolideer. Van die vyftien lande wat deel was van die oorspronklike groep het sommige weggeval en ander weer bygekom. Maar meestal is KERN ’n netwerk van operateurs wat vanuit ’n «hegte basis» soos oud-weermaglede dit graag noem, opereer. Die groep bestaan uit meestal Europese lede en heelwat vernuf wat deur die tegnologiese omwentelinge van die afgelope dekade meegebring is.
KERN se werknemers, ’n bejaarde pankopomie met ’n kierie en ’n jong swart posbode, daag soms nie vir werk op nie. Maar nooit bly hulle weg nie. Die jong swarte, Lamla, is klein en seningrig. Die ou omie praat swaar Afrikaans met ’n kenmerkende Duitse aksent. Lamla voorsien hom van rooibostee by sy tafel waar hy oor planne en formules gebuk sit en beantwoord opgewek die telefoon in die naam van die niksvermoedende S’bu Dlamini se sakeonderneming.
Die baas van die plaas is Beert wat af en toe kom verneem hoe dinge by S’bu se bedryf op die negende vloer loop. Wat Beert vergeet het van polisiewerk, moet ander nog leer. Kai dink sy bloed is grysblou soos die kleur van ’n polisieuniform. Wie sal weet, want Beert het nie ’n skrapie om te wys vir sy net meer as veertig jaar in die veiligheidsbedryf nie. Beert praat nie, hy bulder in ’n diep basstem wat vanuit sy 2m- forse statuur uitsaai. Lamla het ’n heilige vrees vir Beert en aanbid die grond waarop die groot blonde man met die fletsblou oë loop.
Op die dak van die gebou wat S’bu se skoonmaakdienste huisves, is ’n reeks antennes wat deur ’n «konstruksie» verbloem word wat KERN se kommunikasiestelsel uitmaak. Die agente gebruik ’n spesiaal toegewyde netwerk vir hul selfone en nie die handelsnetwerke se tegnologie nie. Handelselfoonnetwerke se oproepe word te maklik afgeluister en opgespoor.
Beert se veiligheidsmaatskappy bestuur die gebou, dus is daar oudergewoonte niemand by die ingang toe Kai die glasvoordeur van die gebou oopswaai nie. Hy ry rukkend op na die laaste vloer waar hy die afstandbeheer van sy motorfietssleutel na die glasdeur waarop «Dlamini» en «Services» staan wys en die deur laat oopswaai.
Beert wag al. «Hoe het dit gegaan?» Beert is die skakel tussen KERN-lede en ’n ou wat dinge kan olie. Hy noem homself graag die «wandelende kantoor» van KERN in Suid-Afrika. In die ou dae sou hy iets van ’n hanteerder gewees het vir operateurs in die veld, maar deesdae met tegnologie, is Beert eerder soos ’n lynskeidsregter wat ’n ogie oor die wel en wee van die agente en hul sendings hou. Hy is ook die logistieke brein en met ’n skamele woord of twee tower hy vliegtuie, helikopters, vragmotors en enige ander toepaslike vorm van vervoer uit die niet uit op.
«Goed.» Kai wil gaan slaap. Die energiedrankie se skop is uit. Hy onderdruk ’n gaap. Hy kon op die ligte Cessnavliegtuig op pad na die Afrikamereland ’n bietjie slaap, maar daarna was die adrenalienstroom net te veel vir ’n dutjie.
«Ek het seker gemaak ek is raakgesien deur ten minste drie goeie vyande,» sê hy met ’n skewe glimlag. Beert lyk tevrede. «Ek het nie geweet of ons jou betyds gaan terugkry nie,» sê hy.
«Ek het in die kroeg op Mafudi se toon probeer trap, maar net sy paar kabouterskoene se lang punte raakgetrap. Het nogtans my elmboog in sy maag geplant. Hy sal onthou,» sê Kai. «Die chauffeur het my defnitief gesien. Ek het seker gemaak.»
«Die afleweringstelsel werk goed. ’n Punt sal nie deur ’n dikker stof dring sonder ’n sterker veer nie, maar dit was warm en die ou het sy gewrig gevryf. Dit help dat daar baie muskiete is. Hy het liggies oor die ‘bytplek’ gevryf, sekondes voordat hy ineengesak het. Nie ’n geluid gemaak nie.»
Beert knik tevrede. «Goed, ek sal Dok op hoogte hou. Hy het gesê dis onwaarskynlik.»
«Ek dink dit kan werk onder sekere omstandighede,» gaan Kai voort. «Ek het nie nodig gehad om enige snaakse gebaar uit te voer nie. Dit was onopsigtelik. Het die pen in my hand, in my sak gehad en toe ek binne vyf meter kom, nie getalm nie. Toe die helikopter land, was ek naby genoeg om te help. Ek het my noodhulpkennis aangebied. Die omstanders was maar te dankbaar. Ek het ook nie te haastig nadergestaan nie. Gewag dat die paniek oplaai. My hangertjie vir diabete lê iewers in donker Afrika. Op die terugvlug saam met die verkeerde paspoorte verloor.» Kai haal ’n paspoort van Aldo de Souza uit sy sak met sy foto in en oorhandig dit aan Beert. «Ek het met dié een ingekom. Sal ’n nuwe stel moet kry,» sê hy en grinnik. ’n Takie vir Beert.
«Wat gebeur toe?» vra Beert. Hy kyk op na die dak asof hy wil seker maak dat die vertrek veilig is. Hy het geen ander keuse as om besonderhede te vra nie. Tyd druk en Beert sal binne die volgende uur moet verslag doen. Hy ontspan effens as hy dink aan die ingewikkelde laserspertegnologie wat doktor Heissenberg geïnstalleer het. Hy voel in sy bosak na sy sigarette en onthou dat hy nie binne die kamer mag rook nie. Hy sal só elke liewe verkeerde alarm aktiveer.
«Ek het die punt van die insulienpen in my broeksak teruggeklik. Dit nooit uitgehaal nie. Ek skat so sestig sekondes na kontak. Ek kon nie na my horlosie kyk nie. Nog so dertig vir die brein om te registreer. Kon dit in die oë sien. Die alkohol moes gehelp het want dit was binne negentig verby. Die liggaamsmassa omtrent presies reg geskat. Sy vrou het gekeer dat hy vooroor val. Ek het gevoel hoeveel hy so min of meer weeg toe ek hom in die heli en vliegtuig help laai het.»
Beert knik weer.
«Die voorstel van die weermaghoof om hom uit te vlieg Suid-Afrika toe vir ’n behoorlike lykskouing het dadelik byval gevind. Ons was in die vliegtuig toe ek sy horlosie afgehaal het en myne in sy bosak gesit het. Ons moes die kadawer vasgordel en ek het dit as ’n verskoning gebruik. Gelukkig was hy met ’n kombers bedek, wat dit makliker gemaak het. Sy Breitling lê ook iewers op die kontinent. Van sy mense weet net sy lyfwag en die weermaghoof dat hy hier is, terloops. Net die lyfwag het saamgekom. Sy mense dink sy lyk is steeds in die paleis of die hospitaal.»
«Voor ek vergeet,» onthou Beert skielik. «Wat van die koerier?»
«Hy swem onderstebo in ’n meer,» sê Kai. «Vlieënier het nie eens omgekyk nie. Te besig om brannas in sy keel af te gooi.» Die voordele van alkoholverslawing, dink Beert. Geen vrae nie, billike pryse. Beert het drie jaar gelede ophou drink toe sy dokter hom gewaarsku het dat sy lewer gaan ingee. Dit was die einde van ’n bottel Oude Meester per aand en die begin van enige gaskoeldrank waarop hy sy hande kon kry.
«Ons is by Wonderboom goed deursoek, die handskoenbehandeling,» sê Kai. «Die insulienpen in die prez se baadjiesak gesit gedurende die vliegrit. Die pen het in die ambulans agtergebly, wel, per abuis.. uitgeval. Ek kon kernmateriaal in sy sakke deurgesmokkel het,» glimlag hy.
«Ons het die pen gekry,» sê Beert.
Beert verander die onderwerp met ’n frons. «Ons dink dis die dokter se assistent. Mooi, jonk en te veel ambisie.» Kai onthou die aanvallige arrogante donkerkop. «Sy is gehuur. Nie veel professionele gewetenskwellinge nie, behalwe waar dit feminisme aangaan.”
«Dis hoekom die lyk na die Johannesburgse hospitaal vervoer is en nie na die staatspatoloog toe nie. Iemand het by die Staatslykhuis vir ons ambulans met dokumente gewag. Lyk nie of die regering vreeslik lus het vir die diplomatieke uitval nie. Ons het maar saamgespeel.» Nou begryp Kai. Dis hoekom Beert hom met ’n geënkripteerde «Nee» laat weet het dat sy sending ver van klaar is toe hy vroeër vanaand uit die stort stap. Hier kom pêre, dink Kai. Sy beskonke toneelopvoering in die kroeg het net die probleem deels uitgestel. Seker darem ’n paar ekstra opsies geskep, dink hy hoopvol. Hy het gedink hy het afskeid van die lyk by Wonderboom geneem. Toe nie.
«Die ambulans se verhitting was vol oop, tot in Johannesburg. Die ou se lyk is omtrent gebak,» sê Beert. «Daar sal pos wees.» Hy bedoel Kai moet sy selfoon vir verdere instruksies dophou. Beert draai om en stap eerste by die vertrek uit. Kai volg. Hy neem die brandtrap na benede toe Beert by die hysbak instap. Twee-twee draf hy die trappe af. Toe hy onder in die parkeerruimte van die kelder kom, maak die mikroskyfie in sy skouer die garagedeur outomaties oop. Hy moet omstap na die voorkant van die gebou waar hy sy motorfiets gelos het. Die swart sekuriteitswag sit binne en slaap.
Kai neem Oxfordrylaan na die M1. Hy draai eers by ’n Andiccio24 in wat nog oop is en bestel ’n wegneem-espresso-koffie. Moerkoffie in Afrikaans, dink hy. Mooi woord. Sy selfoon vibreer met Beert se jongste aanwysings na die dooie posbus. Hy lees, sluk die donker, bitter vloeistof met twee slukke af en stuur die neus van sy swart Ducati Panigale 1199 in die rigting van Saxonwold, net voor die M1. Onder hom grom die enjin soos ’n lui luiperd.
By ’n half toegegroeide bushalte hou hy stil en parkeer sy fiets reg voor die bankie. Hy gaan sit op die bankie en laat glip sy hand agter die sitplek se rugkant. Niemand op straat nie. Die klein metaalklampies is steeds daar. Dis aangebring om soos ’n deel van die struktuur te lyk. Sou iemand dit ontdek, sal dit nie ongewoon lyk nie. Sy vingers voel-voel terwyl hy rondkyk. Vir enige verbyganger lyk dit of die man by die bushalte met sy motorfietsbaadjie se rugkantsoom vroetel. Hy voel die klein koevertjie en glip dit uit die klampies uit. Hy vou die kosbare pakkie oop en haal die mikroskyfie uit. Hy kry sy selfoon byderhand om die jongste enkripsiekode te installeer voordat hy maak dat hy wegkom. Hy moet binne die volgende ure die verslag deurstuur. Die koffie behoort tot dan te hou. Soos ’n ridder van ouds, bestyg Kai sy ysterperd. Hy knip die swart glas van die valhelm toe en jaag die toere hoër.
* * *
Suxametoniumchloried is ’n depolariserende neuromuskulêre blokmiddel wat eintlik ’n sintetiese vorm van kurare – die gif wat Indiane op pylpunte in die Amasone-oerwoud gebruik – is. Dis ’n kragtige spierverslapper wat selfs die diafragma aantas en asemhaling onmoontlik maak; dit kan doodgewoon intramuskulêr toegedien word. Dis ’n aaklige dood om te sterf. Die ontvanger is by sy volle positiewe, wakker, maar kan nie asemhaal, praat of beweeg nie.
Binne die eerste negentig sekondes tas die middel die hart en daarna die brein aan.
Dit lei tot ’n hartstilstand, ’n yslike geïnduseerde hartaanval. Die hart sterf weens ’n gebrek aan suurstof: hartweefsel gaan binne twee tot drie minute met gepaardgaande ondraaglike pyn dood.
Sonder suurstof hou die brein so ongeveer drie minute. Met oefening wat tot verhoogde suurstofvlakke in die brein lei, ’n ietsie langer. Die ontvanger verloor binne vier en ’n half minute sy bewussyn. Algehele afsterwe van die brein neem nog so drie minute. Daarna word die suxametoniumchloried deur die ligaam gemetaboliseer, selfs nadat die dood ingetree het.
Byna onmoontlik om deur ’n onervare patoloog opgespoor te word. Die liggaam breek die middel af tot stowwe wat in elk geval in verskillende konsentrasies, afhangende van die indiwidu, teenwoordig is. Die proses kan gemaskeer word en sonder ’n goeie biochemikus op die toneel sal die doodsoorsaak waarskynlik as ’n hartaanval aangegee word. Hoe warmer die klimaat, hoe kleiner is die kans dat die ware doodsoorsaak opspoorbaar sal wees.
Die lykshuis wat deel van die laaste anneks van die enorme Johannesburgse Algemene Hospitaal, neffens die openbare parkeergarage is, se ligte brand. Kai het sy fiets ‘n vlak boontoe en meer wes by die noodgevalle-afdeling geparkeer. Dis besig want dis Vrydagaand en dit beteken hoe later hoe kwater. Ambulanse trek die een na die ander met hul bebloede vragte by die staanplekke in wat vir dié doel gemerk is. Die wit vrouedokter en ’n Moslemassitent aan diens lyk klaar oorwerk. Die agent haal nie dadelik sy valhelm af nie en loop verby die helder verligte opnamedeel. Niemand kyk na hom nie. Hy stap nie te vinnig nie.
Hy merk dadelik die twee speurders op wat voor die lykshuis in ’n ongemerkte voertuig geparkeer staan. Hy het sy valhelm in ’n bos gedruk. Hy staan ongemerk agter ’n dik pilaar in die parkeergarage voor die lykshuis. Die geregsdienaars sit na die muur voor hulle en staar waarop, ‘n oorblyfsel uit die ou Suid-Afrika, nog baie mooi tweetalig die woorde in sans-serif-letters Lykshuis/Mortuary pryk. Beslis nie twee familielede wat rou nie. Die bestuurder suig verveeld aan sy stompie en blaas die rook vir oulaas aan die kant van sy mond uit waar die venster is voordat hy die stompie met ’n boog uitskiet. Wel, die slagoffer kon net sowel sy visitekaartjie by die lykshuis se voordeur gelaat het. As daar nog enige twyfel was, is dit nou uit die weg geruim. Hulle pas die lyk op. Die oorledene het tydelik hier te ruste gekom vir die lykskouing wat moet geskied. Hulle is waarskynlik reeds binne besig. Nog twee motors staan in die afgeleefde betongarage geparkeer. Kai kruip in die skadu’s nader. Hy voel aan die enjinkap van die naaste donkerrooi VW Jetta. Dis warm. Jip. As die jong assistent dan haar sout werd is, sal sy gou wil speel, dink Kai. Hy kan nie verhelp om die skoenlappers in sy maag te voel nie.
By die laaste anneks se verste muur draai hy by ’n stegie in waar die substasie gehuisves word. Die opwekkers wat sal inskop as die krag afgaan word in ’n ander deel van die lykshuis gehou. Hy vergewis hom van die opset en haal sy selfoon uit om die plan van die hospitaalgebou te beskou. Hy sal moet omloop na die deel waar die opwekkers gehou word, aan die voorkant van die hospitaal.
Goeie aand vir ’n besoek aan die opwekkerkamer. Die monitor waar die wag sit, is swart. Die wag redekawel met ’n kollega oor sy hoenderboudjies van Chicken Licken se geurbymiddel. Kai haal sy laserpen uit sy swart motorfietsbaadjie en brand die slot af. Hy wag gespanne op die alarmgeluid. Al wat tot dusver ononderbroke hoorbaar uit die wagkamertjie was, is Radio Metro se aanbieder wat sy koel beeld opnuut vir luisteraars poets.
Niks. Nie ’n geluid nie. Kosbare minute tik verby. Toe die wag sy kollega groet en met sy rug na die deur gaan sit, haal Kai die slot af en met die eerste hap in die boudjie glip hy by die deur in.
Lees verder.
