Machel en 33 ander insittendes het in Oktober 1986 gesterf toe ‘n Russiese Toepolef 134-vliegtuig naby Komatipoort teen Mariepskop net binne Suid-Afrika gebots het.
Kapt. Paul Ramaloko, woordvoerder van die Valke, het bevestig dat hulle onlangs met die ondersoek begin het. Hy wou nie uitbrei oor nuwe leidrade of wenke nie.
“Al wat ons wil sê is dat ‘n span die ongeluk ondersoek.”
Regter Cecil Margo het Suid-Afrika in 1987 vrygespreek van alle betrokkenheid by die ongeluk, en gesê ‘n vlieëniersfout het die ongeluk veroorsaak.
Volgens gerugte is beëdigde verklarings deur die Valke bekom dat daar destyds met die bakens gepeuter is, wat beteken dat die Mosambiekse president meer as twee dekades gelede dalk vermoor is.
Die ondersoek deur die Valke is glo begin nadat hulle ‘n wenk ontvang het dat apartheid-era amptenare en sekuriteitagentskappe, insluitend die SA Weermag, die ongeluk beplan en uitgevoer het.
The Times het aan die lig gebring dat ‘n ondersoek deur die Suid-Afrikaanse en Mosambiekse polisie, die Nasionale Vervolgingsgesag en die Burgerlike Lugvaartowerheid in November begin is.
President Jacob Zuma se goedkeuring is op die sterkte van bewyse wat verkry is in September gegee. Dit sluit dokumente, foto’s en stemopnames in.
Die 15-lid ondersoekspan van die Suid-Afrikaanse en Mosambiekse polisie is in besit van die getuienis danksy ‘n wenk wat hulle ontvang het.
Verlede week het die polisie die toneel deur kundiges laat besoek en lugfoto’s en GPS-lesings in ‘n afgesperde militêre sone by Mariepskop, Mpumalanga, is glo gedoen.
Radarinstallaties in die sone gee lugfoto-intelligensiedata van regoor Suider-Afrika aan die sentrale Suid-Afrikaanse Lugmagbasis deur.
Mariepskop naby God’s Window, is naby aan Mbuzini, waar Machel se vliegtuig sy en 24 ander se lewens geëis het. Nege mense het die ongeluk oorleef.
The Times se bron het gesê: “Verskeie verslae van die Margo-kommissie van Ondersoek word hersien, saam met foto’s en transkripsies van die vlug se stemdata, asook lugverkeerbeheeropnames.”
Russiese kenners het tot die gevolgtrekking gekom dat die ongeluk veroorsaak is deur die bemanning te mislei met ‘n foutiewe baken wat sterker as die baken op die Maputo-lughawe was.
Die ironie is dat die Russe tans daarvan verdink word dat hulle die Poolse vliegramp wat onlangs die lewens van bykans die hele Poolse leierskap gekos het, veroorsaak het deur opsetlik ‘n foutiewe baken te gebruik. Die geselskap was onderweg na ‘n herdenking vir die slagoffers van die Katynslagting.
In 1994, was Machel se dood die onderwerp van ‘n geslote Waarheids-en Versoeningskommissie-ondersoek.
Dumisa Ntsebeza, die advokaat wat die WVK-ondersoek gelei het, het gesê hy is genader deur die Valke.
“Ek is gevra om my span te aktiveer. Ek het vir hulle gesê dis reg as hulle die begroting het. Ek het sedertdien nog niks van hulle gehoor nie.”
Ntsebeza het gesê die ondersoek is reeds gedoen en dit is in 43 dokumente vervat. “Hierdie dokumente bevat gedetailleerde inligting, met inbegrip van ‘n beëdigde verklaring deur ‘n militêre intelligensie-agent wat betrokke was in die opstel van die vals baken.
“Hierdie agent het gedetailleerde inligting van ‘n vergadering wat die dag voor die ongeluk gehou is, waar dit beplan is. Hy het die name van diegene wat by die vergadering was, gehou by die voormalige veiligheidspolisiebasis Skwamans, naby die ongelukstoneel. Die volgende dag was dieselfde mense die eerste op die toneel.
“Onder diegene wat daar was, was ministers en top militêre amptenare, met inbegrip van Pik Botha, die hoof van die weermag, generaal Kat Liebenberg, en militêre intelligensiehoof Joffel van der Westhuizen.”
Hy het gesê Machel se vrou, Graca, het die WVK van ‘n krisisvergadering in Malawi, in Februarie 1984, vertel. Dis glo byeengeroep nadat Machel gedreig het om Malawi se see-toegang te sluit as Renamo nie hulle bedrywighede staak nie.
“Die moontlikheid van die sluipmoord op Machel was na bewering bespreek by hierdie vergadering. Die volgende week, het Malawi se president amptenare na president PW Botha gestuur. Hy [Botha] het op sy beurt ‘n boodskap van solidariteit aan Malawi met genl. Magnus Malan se delegasie oorgedra.
“Dit is Graca Machel se oortuiging dat die vergadering die vorming van ‘n spesiale span om Machel se bewegings te monitor bespreek het. [Machel] was onder enorme druk ten tye van sy dood, selfs van sy eie party. Graca Machel, ‘n lid van Machel se kabinet, bevestig dat daar aanslae teen sy lewe by sy woonplek was, asook Suid-Afrika se pogings Maputo aan te val.
“Machel, was ten tye van sy dood betrokke in ‘n radikale herstrukturering van sy regering en militêre magte, wat ‘n aantal hooggeplaaste Mosambiekers ontstel het.”
