“Mense sal op 4 Desember nie gaan werk nie. Ons moedig mense aan om plaasdorpe vir die dag tot stilstand te dwing,” het Mario Wanza, ‘n aktivis, namens die stakingskoalisie gesê.
Hy sê hulle beplan om in die gees van “vrede en vriendskap” met boere byeen te kom, om die pad vorentoe te bespreek.
Die koalisie verteenwoordig organisasies soos Women on Farms, Sikhula Sonke, the Black Association of the Wine and Spirit Industry, Cosatu en plaaswerkers wat nie aan vakbonde behoort nie.
Werkers het aan die begin van die maand in De Doorns begin staak om ‘n dagloon van R150 te ëis. Die meeste plaaswerkers verdien tussen R69 en R75 per dag.
Daarna het die betogings na 15 ander dorpe versprei, waar geweld uitgebreek het en twee sterftes aangemeld is.
Werkers het daarna ooreengekom om die staking tot 4 Desember op te skort sodat ‘n kommissie ondersoek kon instel.
Mildred Oliphant, minister van arbeid, het egter vandeesweek gesê dit is onmoontlik om dié spertyd te haal.
Sy het aangekondig dat die minimumlone eers in April volgende jaar hersien kan word.
