“Ons is geskok dat die plaaseienaars in De Doorns… vandag [Dinsdag] ernstige pogings aangewend het om anargie, xenofobie en gewelddadige verdeeldheid onder die werkersgemeenskap te veroorsaak,” het die twee groepe in ‘n gesamentlike verklaring gesê.
Die nie-regeringsorganisasie People Against Suffering, Oppression and Poverty (Passop) en Cosatu het gesê boere en hul bestuur hou vol dat dit nie plaaswerkers is wat die afgelope week vir die anargie verantwoordelik was nie.
Die twee groepe het gesê hulle het bewys dat die boere self die geweld en anargie veroorsaak het. Hulle het egter nie meer inligting oor die beweerde bewyse verskaf nie.
Plaaswerkers was Dinsdag weer op hulle pos ná hulle besluit het om hul staking op te skort terwyl verteenwoordigers van die onderskeie groepe oor lone en werksomstandighede onderhandel het.
Protesoptrede oor lone het aan die begin van November in De Doorns begin en later na 15 ander dorpe in die Wes-Kaap versprei.
