Rusland het egter gewaarsku dat tensy ‘n voorgestelde Arabiese verklaring oor die Israel-Hamas vyandelikhede goedgekeur word Dinsdagoggend, hulle sal druk vir ‘n stemming van die volle Raad. Dit sal waarskynlik lei tot ‘n potensiële vetobotsing met die Verenigde State.
Die Verenigde State, Brittanje, Frankryk en Duitsland het almal voorbehoude oor ‘n teks wat verlede Donderdag voorgestel is deur Arabiese lande, weens die tipering van Palestynse militante in Gasa, het diplomate gesê. Duitsland stem nie in die Veiligheidsraad nie.
Al die Westerse lande het gesê dat Israel die reg het om homself te verdedig, terwyl die Europeërs Israel tot selfbeheersing gemaan het. Die sterfteverhouding tussen die Israeli’s en Palestyne is tans 16:1. In 2008 -2009 was dit 100:1 toe die Iron Dome-stelsel nog nie operasioneel was nie.
Die Palestynse gesant by die VN, Riyad Mansour, het die groeiende frustrasie van die Palestynse Owerheid en sy bondgenote beklemtoon terwyl die konflik uitbrei en die raad niks sê nie.
Die Veiligheidsraad kan nie “op die kantlyn bly nie,” het hy aan verslaggewers gesê. Hy het gesê dat dit nou dringend is vir “die Veiligheidsraad om sy verantwoordelikheid op te neem en hierdie aggressie teen ons mense te stop”.
Die Amerikaanse ambassadeur by die VN en gunsteling om Hillary Clinton se pos te vul, Susan Rice sê ‘n skietstilstandooreenkoms tussen die Israeli’s en Hamas kan alleen sonder geweld tot stand kom om “betekenisvol of volhoubaar” te wees.
“Die Verenigde State van Amerika en die lande in die streek sal energiek werk deur al die diplomatieke kanale om te probeer om ‘n einde te maak aan die geweld, en ‘n de-eskalasie te onderhandel,” het Rice aan verslaggewers gesê na afloop van die gesprekke.
Duitse diplomatieke bronne het hul frustrasie met die toedrag van sake uitgespreek, aangesien die Duitse geheime diens ‘n aantal maande gelede ‘n ontmoeting tussen Israel en Hamas gereël het om die vredesproses weer aan die gang te kry.
Sommige ontleders meen die aanvalle op Hamas is deur Israel geloods om juis die Palestyne se voorlegging vir ‘n onafhanklike staat by die VN in November te kelder en vredespogings te ondermyn.
Rice het gesê dat president Barack Obama en Hillary Clinton gister “die hele dag” op die telefoon met die Midde-Oosterse leiers was.
Dit is “uiters belangrik” dat enige Veiligheidsraadaksie “die vooruitsigte vir ‘n skietstakingsooreenkoms bevorder en nie iets doen wat dit ondermyn nie”.
Die Russiese ambassadeur by die VN Vitaly Churkin het egter gesê die Arabiese voorstel, wat deur Marokko opgestel is, is “‘n baie goeie teks” en het die beste kans om tot ‘n onderhandelde skikking tussen die twee strydende partye te lei aangesien dit die enigste skriftelike voorstel tot dusver is.
Hy het gesê die teenvoorstelle is nie op skrif gestel nie, ten spyte daarvan dat alle lede reeds drie dae lank die Marokkaanse voorstel onder oë het. Die voorstel is selfs op die internet beskikbaar.
“Indien die voorstel nie aangeneem word om 09:00 [1400 GMT] môre nie sal ons gaan vir ‘n stemming oor ons konsepvoorstel” Woensdagmiddag, het hy bygevoeg.
Verskeie diplomate het gesê hulle verwag dat besware teen die voorstel gemaak sal word deur ten minste drie Veiligheidsraadlede.
Die Russiese besluit sal vra vir ‘n opskorting van geweld, ondersteuning vir die Egiptiese-geleide pogings om ‘n wapenstilstand te beredder en sal Israel en die Palestynse Owerheid aanmoedig om hul gesprekke te hervat, volgens ‘n afskrif wat verkry is deur AFP.
As die Russe besluit dat ‘n stemming deurgaan, sal dit waarskynlik met veto deur die Verenigde State begroet word, wat deurlopend alles wat teen Israel gemik is, blokkeer.
