Landbou het vir goed verander in SA

“Die huidige landboustakings gaan landbou in Suid-Afrika vir altyd verander. Ons gaan in die volgende paar jaar ‘n ingrypende strukturele verandering in landbou sien,” het dr. Pieter Mulder, Adjunk-Minister van Landbou, Bosbou en Visserye op Willomore gesê. Dr. Mulder was die spreker by ‘n landboudag op die Oos-Kaapse Karoodorp.

Kommersiële landbouers is nie welsynwerkers nie, maar is in die eerste plek sakemanne wat ‘n wins moet maak. Eers hierna kan ‘n landbouer aandag gee aan sosiale kwessies soos wat tans deur die vakbonde van hulle verwag word.

Die boodskap wat ek van die landbouers reg oor die land kry, is dat dit nou tyd is om hulle afhanklikheid van plaaswerkers so ver as moontlik te beperk. In ontwikkelde lande soos die VSA en Australië, waar daar min plaaswerkers beskikbaar is, is boerdery implemente reeds so ontwikkel dat dit ‘n plaaseienaar help om sonder honderde werkers klaar te kom. Een oesmasjien kan die werk van honderde werkers doen.

‘n Buitensporige verhoging van die minimum loon mag op die kort termyn politieke voordele vir die regering inhou, maar sal op die langtermyn onafwendbaar tot groot werkverliese en meganisasie in die landbou lei.

In Suid-Afrika het plaaswerkergetalle van 1,1 miljoen in 2004 na 624 000 in 2011 gedaal. Dit is ‘n daling van 46%. Hoewel hierdie ‘n wêreldwye tendens is, het faktore soos grondhervorming, regeringsinmenging op plase en die algemene onsekerheid oor die toekoms van landbou gemaak dat hierdie syfer in Suid-Afrika baie hoër is as die daling in ander lande. Die verwagte verskuiwing na meganisasie na die landboustakings, gaan hierdie tendens in Suid-Afrika verder verhaas.

In Suid-Afrika is daar maar 12% kommersiële landbouers wat ‘n jaarlikse omset van meer as R2 miljoen het. Die ander 82% se omset is minder as R2 miljoen per jaar met 52% wat ‘n omset van minder as R300 000 het. Met die stygende pryse van elektrisiteit, water en brandstof kan hierdie landbouers nie ‘n skielike verhoging in arbeidkoste bekostig nie. Hulle keuse gaan bankrotskap of die vermindering van werkers wees.

Dr. Mulder het die geweld en intimidasie tydens die landboustaking asook die politiekery sterk veroordeel. Die afbrand van plase en die vernietiging van eiendom lei tot ‘n verloor-verloor situasie. Beide die plaaseienaars en die plaaswerkers gaan in die volgende jaar groot geldelike verliese lei as gevolg hiervan.

лобановский александр жена

Maak 'n opvolg-bydrae