Wen se Terceira-besoek het nêrens in die media opspraak gemaak nie, maar onmiddellik het alle alarms afgegaan in Washington en in die Europese hoofstede. Wen se laaste amptelike stop op sy reis vanaf die Asore, was Santiago, die hoofstad van Chile. Vlugte van Chile na China gaan normaalweg oor die Stille Oseaan, nie die Atlantiese Oseaan nie, so daar was geen rede dat sy vliegtuig by die Asore moes aandoen nie. Verder, diegene wat die Asore besoek, kies oor die algemeen ander eilande in die ketting.
Terceira het egter ‘n groot trekpleister vir Beijing: Lugbasis Nommer Vier. Beter bekend as Lajes-vlugveld is dit die fasiliteit waar Premier Wen se 747 in Junie geland het. As China die basis beheer, sal dit nie meer veilig in die Atlantiese Oseaan wees nie. Dmv die 10.865-voet aanloopbaan aan die noordooste kant van die eiland, kan Chinese vegvliegtuie die noordelike en sentrale gedeeltes van die Atlantiese Oseaan patrolleer en daardeur die lug- en die seeverkeer tussen die VSA en Europa afsny. Beijing sal ook in staat wees om toegang tot die nabygeleë Middellandse See te beheer.
En China kan die Amerikaanse vasteland maklik van daar bereik. Lajes is minder as 2300 myl van New York, korter as die afstand tussen Pearl Harbor en Los Angeles.
Lajes is vir seker die rede dat Wen gaan kennis maak het in Terceira. Vir jare het sy land al probeer om vordering te maak in die Asore en het net gewag vir ‘n geleentheid om toe te slaan. Daar is niks wat die Chinese kan doen as die Amerikaners daar aanbly nie, maar Pentagon is besig om na begroting te kyk, en wil volgens sommige waarnemers, van Lajes ‘n “spookbasis” maak.
Die fasiliteit is egter krities belangrik. Tydens die Tweede Wêreldoorlog, was die vliegveld instrumenteel in die jag van U-bote, en in die Koue Oorlog het die basis gehelp om die Sowjetunie se bewegings te monitor. Lajes was ‘n besige transitopunt in die Golfoorlog. Dit was ook een van die plekke waar die Ruimtependeltuig kon geland het in ‘n noodgeval.
Tans is Lajes die tuiste van die USAF se 65 Air Base Wing, wat Amerikaanse en NAVO-vliegtuie in transito oor die Atlantiese Oseaan ondersteun, en dit huisves verskeie ander Amerikaanse militêre eenhede. Sy rol, nietemin, het sterk afgeneem. Vrede in die Noord-Atlantiese Oseaan en die tegniese vooruitgang in lug-tot-lug hervulling het die belangrikheid van die strategiese aanloopbaan, wat selde gebruik word deur die VSA, laat afneem.
Uit ‘n suiwer militêre oogpunt, sal die besluit om bedrywighede te staak by Lajes sin maak. Die effektiewe sluiting van die veld, sal Terceira egter duur kos. Terwyl landbou die basis van die eiland se ekonomie vorm, help die basis om rekeninge te betaal. As Terceira ‘n toekoms wil hê, sal die Portugese regering ‘n nuwe groot huurder vir Basis Nommer Vier moet vind..
Beijing het Portugal as sy beginpunt in Europa geïdentifiseer, en Chinese amptenare ken hul weg na Lissabon goed. Dit is binne hierdie konteks dat die Portugese reeds dink oor die beplande sluiting van Lajes. Hulle wil nie die Chinese uitnooi nie, maar hulle het stil-stil aangedui hulle sal geen ander keuse hê as die US Air Force besluit om die basis te verlaat nie.
In reaksie sê die Amerikaanse Departement van Verdediging: “Hulle [die Portugese] is ‘n belangrike NAVO-bondgenoot en bilaterale vennoot, en ons sal voortgaan om ons sterk verdedigingsamewerking, in Portugal en regoor die wêreld te bespreek.”
Dit is nie heeltemal duidelik waarom die Amerikaanse Afrika Command by Kelley Barracks, buite Stuttgart moet wees nie. ‘n Oordrag van die ongeveer 1500 personeel daar na Lajes, wat baie nader aan Afrika is, sal die probleem oornag oplos, en die skuif kan eintlik Africom se doeltreffendheid verbeter, meen sommiges.
Daar is ongetwyfeld ander oplossings wat die Pentagon kan implementeer. Nie een van hulle sal perfek wees nie, maar almal van hulle sal beter wees as om Beijing se rooi vlag oor die Atlantiese Oseaan te sien wapper. En toe te laat dat Chinese vegvliegtuie die waters tussen Amerika na Europa patrolleer.
