Geweld het glo oornag in die gebied opgevlam.
‘n Slagtery en verskeie winkels in die gebied is geplunder en ‘n groot aantal polisielede monitor die gebied.
Die geweld hou volgens berigte nie verband met die staking nie.
Geen verdere besonderhede is bekend nie.
Sommige plaaswerkers op Wolseley in die Wes-Kaap het ingestem om terug te keer werk toe na samesprekings met die provinsiale adjunk-polisiekommissaris, Hendrik Burger. Die voorsitter van die burgerregte-organisasie, Sanco, Vusi Myeke, sê sommige werkers het vandag gehoor gegee aan minister Tina Joemat-Petterson se versoek dat die staking opgeskort word totdat onderhandelings afgehandel is. Die werkers dring egter daarop aan dat die polisie aan sekere voorwaardes moet voldoen.
Op die naburige Pineview is werkers wat nie tot die versoek ingestem het nie besig om ander plaaswerkers te verhoed om te gaan werk.
Die polisie en veiligheidsbeamptes op De Doorns in die Wes-Kaap het talle stakende plaaswerkers wat hulle kollegas wou verhoed het om te gaan werk, in hegtenis geneem. Vakbondleiers het twee dae gelede die werkers versoek om die voortslepende stakings in die provinsie vir twee weke op te skort totdat die sektorale vergoeding hersien is. Meeste van die werkers ignoreer die versoek.
Die N-1 by Stofland word sedert vanoggend met klippe en brandende rommel versper. Intussen het boere ‘n ultimatum aan die werkers gestel om vandag terug te keer werk toe of afgedank te word. Van die werkers sê egter hulle sal nie gaan werk voordat daar aan hulle eise voldoen word nie.
Intussen is die N-1 by De Doorns nog vir verkeer gesluit. Die alternatiewe roete is deur die dorp. Die pad tussen Touwsrivier en Ceres is ook gesluit. Daar is ‘n alternatiewe roete oor De Doorns.
