Die huishulp met die lang vingers is weer terug.
So maan die Moot-polisiestasie inwoners na daar nog sake van diefstal rakende dié huishulp by die Moot- asook die Villieria-polisiestasie aangemeld was.
Na die eerste waarskuwing van die Moot-polisie in Julie en wat deur Rekord geplaas is, is daar reeds weer vyf sake aangemeld.
Dié huishulp stel haarself blykbaar voor as Rebecca Ngwana en verseker voornemende werkgewers dat sy by verskeie inwoners in die omgewing werk wat kan bevestig dat sy betroubaar is, indien ‘n verwysing benodig word. Sy verskaf ook haar selfoonnommer en woonadres vir bevestiging.
“Die werkgewer neem haar in diens, sonder om navraag te doen, en laat haar alleen om te werk wanneer hulle nie tuis is nie,” het luitenant Linda Jerling, woordvoerder van die Moot-polisiestasie, gesê. Wanneer die werkgewer egter terugkeer, is Ngwana skoonveld, so ook na bewering verskeie waardevolle artikels.
Jerling het inwoners gemaan om eers voornemende werkers se identiteit te bevestig voordat hulle in diens geneem word. Sy versoek dat die Moot-gemeenskap meer verantwoordelik moet optree alvorens hulle ‘n onbekende persoon in diens neem.
Jerling het inwoners aangeraai om eers identiteitsdokumente te versoek, ‘n afskrif daarvan te maak en dan ook ‘n foto van die werker te neem. Dit is belangrik om eers soveel as moontlik inligting rakende die persoon te verkry voordat iemand aangestel word.
Jerling het inwoners versoek om enige inligting wat die polisie moontlik met hul ondersoek kan help, aan die Moot-polisiestasie te rapporteer. Navrae: Adjudant-offisier Dennis Mothlaoleng by 076-133-2632.
