‘n Bekende sakeman van Tzaneen se seun het Sondagoggend vroeg in sy kamer wakker geskrik toe twee vuurwapens teen sy slape gedruk word.
Net om sekondes later uit te maak hoe ‘n bende van tussen 8 of 10 rowersin stilte na hom staar. Ge-balaklava, swaar gewapen en met handskoene aan.
Hulle het hom dreigend dopgehou.
‘Dit het gevoel soos ‘n nagmerrie, dit het gevoel of dit onwaar is,’ so vertel Gertjie du Plessis (27) wie se dapperheid, kalmte, en samewerking tydens die rooftog ‘n moontlike familie en gemeenskaps tragedie afgeweer het.
Dié voorval het vroeg Sondagoggend afgespeel in die sekuriteits-oord, Golden Acers. Du Plessis, seun van Willie en Raaikie du Plessis, eienaars van Harmonie Abbattoir het met Letaba Herald se joernalis gesels oor sy angswekkende aand en hoe die nagmêrrie verloop het.
‘Ek het omtrent 03:30 wakker geword toe staan daar twee mans langs my bed met pistole teen my kop. Ek het met my hande onder my kussing op my maag geslaap. Hulle het my hande met ‘Cable ties’ vasgebind en daarna my voete. Dit was groot ‘cable ties’ soos wat die polisie gebruik.
Toe gooi hulle my om op my rug en trek maskeerband oor my mond en sê ek moet stil bly: ‘We will kill you, keep quiet,’ nog steeds met wapens op my gerig.
Ek is omgedraai op my rug toe sien ek hierdie klomp rowers voor my met maskers, ek dink daar was ongeveer agt of dalk meer. Swaar gewapen en met handskoene…ek kon nie hulle gesigte sien nie, almal het swart gedra en het balaklavas aangehad.
‘Die meerderheid van die rowers is toe uit die kamer uit. Ek het probeer om deur die maskeerband met twee van hulle te praat, om hulle aandag te trek. Hulle het goeie Engels gepraat. Ek is die heeltyd aangehou met wapens wat op my gerig was.
‘Ek het aan hulle probeer sê dat hulle nie die kluis gaan kry nie. Hulle het die heeltyd aan my gesê dat hulle my gaan skiet.’
Volgens Du Plessis het een van die rowers glo ‘n ander gaan roep en is sy voete los gesny.
‘Ek is na die leefarea geneem en ek kon in die donker sien dat almal iewers plek ingeneem het…dood stil.’
Hy is later met die trappe in die huis op begelei.
Groot was sy verbasing toe hy op die boonste verdieping kom.
Voor sy ouers se slaapkamer het gewapende rowers doodstil gestaan. Hy is na die kantoor geneem, waar die kluis se sleutel gebruik is om dié oop te maak. ‘n Onbekende bedrag kontant en juwele is geroof.
Volgens Du Plessis het een van die rowers een van die blikke wat in die kluis was geskud en dit het ‘n geraas gemaak.
Een van die honde wat in sy ouers se kamer was het glo begin blaf , dit was duidelik nie deel van die ‘uiters professionele roofbende se meesterplan nie, en volgens Du Plessis kon hy sien daar is paniek onder die rowers.
‘Dit is duidelik dat die motief was om slegs te roof. Alle skootrekenaars, rekenaars en selfone net so gelos.’
‘Die rowers was uiters professioneel en georganiseerd…hulle het geweet wat waar was.”
‘Ek kon net begin bid, dit is al wat ek kon doen sodat ons net veilig kon bly,’ luidens du Plessis.
Nadat die hond begin blaf het, het Du Plessis hulle gewaarsku om spore te maak. Die rowers het gevlug.
‘n Laaste arrogante rower het die jong Du Plessis weer probeer vasbind, maar besef sy makkers het reeds ontsnap en het ook laat spaander.
Gertjie het ongeveer vyf minute gewag voordat hy hom na sy ouers se kamerdeur toe gehaas het en die kamerdeur met sy kop oop gemaak het. Hande steeds vasgebind.
Sy pa, Willie, het in daardie stadium verbouereerd, glo ‘n waarskuwings skoot afgevuur deur die badkamervenster. Alle nooddienspersoneel, was binne etlike minute op die toneel.
Dave Protter maan persone wat slagoffers is van geweld en gewapende roof om kalm te probeer bly en so vining as moontlik nooddienste te ontbied.
Hy vra ook dat met die fees seisoen wat op hande is, persone meer veiligheids bewus moet wees.
‘Sonder die Here se genade sou ek verseker nie die aanval oorleef het nie. Ek dank Hom dat ons almal vandag nog lewe.’ sê Du Plessis.
Indien enige persoon oor inligting beskik wat kan lei tot die inegtenisneming van die gewapende rowers skakel die hoof van die speurtak, kol James Espach op: 082 451 7169 of Dave Protter op: 084 4000 911.
