Helen Zille, premier van die Wes-Kaap, moes vir haar eie veiligheid van ‘n groep oproerige plaaswerkers in De Doorns vlug, het die SABC berig.
Die situasie bly steeds gespanne en die polisie het ‘n sterk teenwoordigheid rondom die plase ontplooi. Die werkers is vasbeslote dat hulle sal voortgaan om protes aan te teken vir ‘n beter loon.
Hulle sê voedsel, vervoer en elektrisiteit het die hoogte ingeskiet, maar hul lone het dieselfde gebly. Die werkers het vandag geweier om ‘n eenmalige betaling van R2000 te aanvaar.
Agri Wes-Kaap, sê skade aan wingerde in die Hexriviervallei word geskat op ongeveer R12 miljoen en dat die onrus polities gemotiveerd blyk te wees. Woordvoerder, Portia Adams, sê wingerde van sowat 50 hektaar is verbrand.
Zille het die gebied besoek te midde van toenemende spanning tussen die werkers en boere. Plaaswerkers het klippe in Zille se rigting gegooi en haar uitgejou.
