Lt.kol. Victor Visser het Donderdag vertel van die geweld wat hoogty gevier het tydens die staking by Marikana in die Noordwes in Augustus.
Visser het foto’s vertoon van ‘n toesighouer by die myn wat doodgekap is.
“Hierdie betogers het nie die polisie ontsien nie, en beslis ook nie hulle medewerkers nie. Die lyk van die toesighouer is verskeie kere gekap en ‘n [bees se] skedel is op sy bors geplaas.
“Die skedels van verskeie ander diere het in die veld gelê. Dis nie vir ons [om te besluit] of die skedel enige betekenis gehad het nie.”
Die kommissie ondersoek die dood van 34 mynwerkers wat op 16 Augustus naby Lonmin se myn by Marikana tydens ‘n botsing met die polisie doodgeskiet is. Tien ander mense is ook dood in verwante voorvalle in die week voor die slagting.
Visser het vroeër getuig dat die stakende mynwerkers naak in rye gestaan het om besprinkel te word met moeti, wat hulle onoorwinlik moes maak. Lugfoto’s van twee rye kaal mans is aan die kommissie gewys.
