Die Grondwethof hoor vandag argumente aan oor AgriSA se eis vir skadevergoeding oor die beweerde onteiening van minerale regte.
AgriSA voer in die aansoek aan dat die Wet op Minerale en Petroleum Bronne-ontwikkeling die konsep van privaat minerale regte herroep. Volgens die Wet wat in 2004 gepromulgeer is, moet eienaars van ou orde-regte aansoek doen om dit in nuwe regte te omskep.
Die wet laat ook die eienaarskap van minerale regte in die hande van die staat. AgriSA glo dit kom neer op onteiening en eis vergoeding van twee miljoen rand.
AfriForum, Afrisake, Floris Johannes Pool en die sentrum vir toegepaste regstudies is as vriende van die hof toegelaat.
Hulle het verskeie argumente ingedien oor die regte benadering tot die saak en watter oorwegings die hof in ag moet neem. AfriForum, Afrisake en Pool steun AgriSA, terwyl die sentrum vir toegepaste studies Minister Susan Shabangu se posisie ondersteun.
