Kenny Africa, hoofdirekteur van provinsiale verkeer in die Wes-Kaap, het gesê die N1 tussen De Doorns en Worcester en 10 km buite Touwsriver is vir verkeer gesluit. Hy het motoriste aangemoedig om die alternatiewe roete vanaf Johannesburg na Kaapstad is via Ceres te gebruik.
Geweld en oproer in die gebied het Woensdagaand weer opgevlam en een huis en nóg wingerde is aan die brand gesteek. Klinieke in die gebied is intussen ook gesluit.
Plaaswerkers betoog die afgelope paar dae vir beter betaling. Hulle eis ‘n loonverhoging van R75 tot R150 per dag. Die Wes-Kaapse regeringswoordvoerders het voorheen gesê die oproer hou nie verband met looneise nie.
André Traut, polsiewoordvoerder, het gesê geen geweld is Donderdagoggend aangemeld nie, maar Woensdagaand was daar voorvalle van brandstigting.
“Niemand is in hegtenis geneem nie.” ‘n Sterk polisieteenwoordigheid is steeds in die gebied ontplooi.
Woensdag se gesprekke om die staking te beëindig het tot laat geduur, maar het op ‘n dooie punt uitgeloop.
