SARK wil Gaga stop

Die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke se jeugforum gaan saam met ander Christelike groepe poog om Lady Gaga te verhinder om Suid-Afrika te besoek deur druk op die ANC te plaas. 

Gaga, wie se regte naam Stefani Germanotta is, het al verskeie politieke veldtogte ondersteun, veral gayregteveldtogte in Amerika. Sy het ook haar ondersteuners aangemoedig om op te lees oor hidrobreking, die omstrede tegniek om skaliegas te ontgin, om die vernietiging van die omgewing te stuit.

Gaga se onlangse ontmoeting met Julien Assange het voorts vir groot opspraak gesorg. Die WikiLeaks-stigter skuil tans in die ambassade van Ecuador in Londen nadat Brittanje hom aan Swede wou uitlewer.

Gaga het haar ondersteuners gevra om in protes buite die ambassade te vergader ter ondersteuning van Assange. Die sangeres het foto’s van die besoek op haar webwerf geplaas. Sy was soos Liewe Heksie vir die geleentheid aangetrek. Gaga het 30 miljoen volgelinge op Twitter, die meeste van enige kunstenaar.

Assange mag besoekers ontvang, maar kan nie ‘n tree buite die ambassade waag nie, omdat die Britse owerhede polisiemanne by die voorste en agterste ingange gepos het wat gereed is om hom in hegtenis te neem as hy ‘n voet verkeerd sit. Hy sal terstond na Swede gestuur word in terme van ‘n Europese arrestasie lasbrief (EAW) as hy dit buite die gebou waag.

Gaga ondersteun ook vir Bradley Manning, die Amerikaanse weermagsoldaat wat deur die Amerikaanse owerhede aangehou word sonder verhoor omdat hy honderde duisende geklassifiseerde Amerikaanse militêre en diplomatieke dokumente gelek het. Manning het blykbaar na Gaga geluister toe hy die inligting beskikbaar gestel het. Hy sal in Februarie volgende jaar verskyn, na 983 dae in die tronk sonder verhoor.

Gaga tree op 30 November in Johannesburg en 3 Desember in Kaapstad op.

Die kerkgroepe is glo bekommerd oor die “vernietigende invloede” wat sy op die jeug van die land kan hê. Volgens Neels Jackson van Beeld word Gaga met Satanisme verbind.

Ds. Tumi Senokoane van die jeugforum het gesê Suid-Afrika is ‘n brose samelewing. Hulle is bekommerd oor die moraliteit van die inhoud van haar vertonings.

Eerw. Mxolisi Sonti, sekretaris van die jeugforum, is bekommerd oor die omvang van Satanisme in Suid-Afrika en dat Gaga se invloed dit kan aanhelp.

As die regering die Dalai Lama kon keer om Suid-Afrika te besoek, kan hy Gaga ook keer, meen hy.

Sonti het gesê die groep se optrede is ‘n antwoord op afsonderlike oproepe van pres. Jacob Zuma en koning Goodwill Zwelithini dat die kerke moet help om moraliteit in Suid-Afrika te herstel.

топкарго

Maak 'n opvolg-bydrae