Die vraag is of die universiteite, bv by monde van die komitee van universiteitshoofde, hulle enigsins vooraf teen hierdie drakoniese wetgewing uitgespreek het. Andersins is die vraag of die universiteite, noudat die koeël deur die kerk is, hulle heftig gaan verset.
Dit is heeltemal onvanpas dat iemand wat ideologies so gepreokkupeerd soos Nzimande is, die minister van hoër onderwys is. Ek het op 22 Oktober op die Praag-webwerf daaroor geskryf. Ek het die gebrek aan weerstand teen Nzimande se maatreëls betreur en voorspel dat hierdie houding staatsinmenging in ons universiteite gaan vererger. Hier het ons nou die klinkklare bewys daarvoor. Nzimande is nou in ‘n sterker posisie as ooit tevore om universiteite oor enigiets af te dreig; dus totdat aan sy wense voldoen is.
“Die wetsontwerp sal aan … Nzimande groter magte gee om universiteitsrade te ontbind en administrateurs aan te stel as hy meen die instellings word wanbestuur … Volgens Nzimande is die doelwit van die wetgewing om vinniger in te gryp wanneer sake by ‘n universiteit skeefloop. Hy het ontken dat hy die magte wil hê om universiteite te beheer of akademiese vryheid in te perk. Hy het gesê kennis en insig kan net toeneem waar daar vrye denke is, maar dat outonomie as sodanig nie ‘n progressiewe eienskap is nie. Universiteite is openbare instellings en moet verantwoordbaar wees.”
Let op hoe Nzimande onmiddellik nadat hy ontken het dat hy groter beheer oor universiteite wil uitoefen, hy hulle outonomie, dus hulle reg om onafhanklik van die regering te funksioneer, tot ‘n nie-progressiewe eienskap verklaar. In die ANC se “bevrydingstryd” het “progressief” deurgaans die betekenis gehad van “iets waarvan die ANC en sy meelopers, soos die kommuniste (waarvan Nzimande een is), hou”. Wat Nzimande hier mee besig is, is die bekende ANC-truuk, naamlik die sentralisering van mag.
Die uitgangspunt is dat die ANC-regering oppergesag oor alles in die land het. Op grond daarvan moet alle openbare instellings, soos die universiteite, na die ANC se pype dans. As die universiteite nie maak soos die ANC voorskryf nie, ontvang hulle verminderde staatstoelaes. Dit is nou as daar nie gedreig word om die subsidies heeltemal te staak nie. Voortaan kan selfs die direkte beheer oor universiteite na goeddunke deur die ANC-regering oorgeneem word. Pleks van ‘n skynakademikus as strooipoprektor kan ‘n halfgeletterde ANC-kameraad voortaan in so ‘n pos ontplooi word.
In die praktyk is daar nie beleidsverskil tussen die ANC en die ANC-regering nie. In baie groter mate as tydens die vorige politieke bedeling, word universiteite na die wil van die regering gebuig. Dit gaan vir die ANC in die eerste plek nie om ons universiteite voortreflike akademiese inrigtings te maak nie. Wat die ANC wil hê, is dat universiteite ooreenkomstig die ANC se wense moet funksioneer en dus, waar nodig, moet verander (eerder as verbeter). Dit is die wese van universitêre transformasie.
Sodanige transformasie word met entoesiasme deur bv Russel Botman, die rektor van die Universiteit Stellenbosch (US), omarm. Dit is glad nie ‘n suiwer akademiese pad wat geloop word nie. Dit is erger as bloot ‘n onakademies strategie. Dit is veel eerder anti-akademies, want die gehalte van die onderrig ly daaronder.
Tydens wat deesdae die “apartheidsera” genoem word, was daar by talle geleenthede allerhande soorte proteste, bv optogte, waaraan baie akademici en studente deelgeneem het. In die buiteland het luidrugtige besware opgeklink en is boikotte gereël. Akademiese vryheid en universitêre outonomie is as onskendbare heilige koeie voorgehou.
Waar is daardie entoesiasme en sensitiwiteit nou? Wat ek waarneem, is gedweë papbroekigheid. Aan die US is daar selfs misleide studente, insluitende studenteraadslede, wat Botman se pas van transformasie wil versnel. Botman het belowe om spoedig die doelpale te verskuif deur met ingrypende voorstelle vorendag te kom.
