Die ANC kan nie vertrou word met die ooreenkoms met AfriForum en TLU SA oor die Malema-haatspraak saak nie. Dit is nie die eerste keer dat die ANC onderneem om sy ondersteuners aan te moedig om hulle te weerhou van haatspraak nie. Histories het die Vryheidsfront Plus in 2007 ‘n soortgelyke ooreenkoms gehad met die ANC, na ‘n klagte van haatspraak by die Menseregtekommissie (MRK). Die klagte het gespruit oor plakkate in Dendron van “All Boers are Killers” en “‘n Boer will remain a F*** Boer” in ‘n optog van die ANC. Die ooreenkoms is op 17 April 2007 in die verhoor van die MRK gesluit en die ANC het selfs onderneem om dissiplinêr teen sy lede op te tree. Nodeloos om te sê die ANC het hom nie by die ooreenkoms gehou nie,” sê mnr Pieter Groenewald, parlementêre leier van die Vryheidsfront Plus.
“Al sou die ooreenkoms met AfriForum en TLU SA ‘n hofbevel gemaak word, is dit moeilik afdwingbaar in die praktyk. ‘n Onderneming om “ondersteuners en leierskap aan te raai en aan te moedig om met selfbeheersing op te tree … om kwetsing te vermy” is te wyd. Nêrens is ooreengekom dat die woorde van Malema haatspraak is nie. Volgens inligting was Malema nie teenwoordig nie en het die ANC namens hom geteken. Malema is nie meer lid van die ANC nie en is dit te betwyfel of hy hoegenaamd by die ooreenkoms sal hou” sê Groenewald.
