Die liggaam van Remigiusz Mus, ‘n 42-jaar-oue lugvaart-ingenieur, is Saterdag deur sy vrou in die kelder van hul huis in ‘n voorstad van die Poolse hoofstad gevind.
Die hoof van die Poolse parlementêre kommissie, Antonie Macierewicz, wat die ongeluk ondersoek waarin 95 amptenare en hoëlui dood is, het gesê dat Mus een van twee belangrike getuies in die saak was. Met Mus dood, bly net die een sleutelgetuie Artur Wosztyl oor, het Macierewicz gesê.
Dariusz Slepokura, ‘n woordvoerder van die Warskou-distriksaanklaer se kantoor, het gister gesê Mus het waarskynlik selfmoord gepleeg.
Mus se selfmoord is die tweede voorval van sy soort verbonde aan die ondersoek van die 10 April 2010-vliegtuigongeluk, het hy gesê.
Die ramp het die hele Poolse leierskap uitgewis. Die meeste van die land se top-politieke, militêre, finansiële en godsdienstige leiers was op dieselfde vlug na Smolensk om die Katynwoudslagting van 1939 te herdenk. Dié leierskap was as baie pro-Amerikaans beskou.
Alhoewel die Katynslagting vroeër spanning tussen Rusland en Pole veroorsaak het, was die Russiese publiek se skok en afgryse na die ongeluk ironies genoeg ‘n element wat die twee lande weer saamgesnoer het.
Tydens die ondersoek, het Mus getuig dat grondbeheer in Smolensk die vlieëniers toestemming gegee het om te daal na ‘n hoogte van 50 meter. Mus se getuienis weerspreek die amptelike Poolse weergawe, wat gesê het dat die lugkontroleerder slegs toestemming tot 100 meter gegee het.
Die vlieëniers is gewaarsku dat toestande van swaar mis en swak sig by Smolensk se militêre vliegveld heers, en is gevra om na ‘n ander lughawe te gaan. Die bemanning vir die vlug is glo ‘n dag voor die tyd aangestel nadat die gewone span aangesê is om nie te rapporteer vir diens nie.
Die onervare vlieënier het nogtans besluit om te land ten spyte van Russiese waarskuwings. Transkripsies van die vliegtuig se swart vlugopnemer het aan die lig gebring dat die vlieëniers gedwing is om so gou as moontlik te land. Die opname het ook getoon dat een amptenaar voortdurend in die kajuit was gedurende die vlug om druk op die bevelvoerder te plaas, en dat die Hoof van die Lugmag van Pole teenwoordig was in die kajuit ten tye van die ongeluk.
