Phosa het by die eerste Max Maisela-gedenklesing by die Monash-universiteit in Johannesburg ‘n toespraak gelewer.
“Marikana het ons geleer… ons model vir SEB is disfunksioneel, en dat ons kreatief moet wees wanneer ouer modelle van onderhandeling deur minderbevoorregte mense agtergelaat word,” het Phosa gesê.
Hy het ook gesê SEB-beleid het nie daarin geslaag om entrepreneurskap en welvaartskepping onder swart Suid-Afrikaners te bevorder nie.
Al wat gebeur het is dat ‘n klas van swart beleggers geskep is wat in bestaande maatskappye belê, het Phosa benadruk.
“Die eenvoudige feit is, of jy nou wit of swart is, daar is ‘n groot behoefte vir wyer deelname aan die rykdom van hierdie land op ‘n manier wat verskil van die huidige model,” het hy gesê.
