Die Suid-Afrikaanse weermag – reeds deur vredehandhawingsontplooiings regoor die kontinent oorlaai – is besig om voor te berei vir die ontplooiing van honderde bykomende troepe, met inbegrip van burgerlike reserviste, vir vredemissies. Daar is sowat 15.000 leërreserviste.
Voor gister se aankondiging, het president Jacob Zuma gesê hy sal dit sterk oorweeg dat soldate in Mali in ‘n Afrika-Unie-vredesmag dien. As Zuma die groen lig gee, kan die ontplooiing reeds vroeg volgende jaar gebeur.
Weermaghoof, luitenant-generaal Amos Masondo, het gister bevestig dat dringende versoeke deur Mali en die Demokratiese Republiek van die Kongo gerig is.
“Ons wag om te hoor wat gedoen moet word,” het hy gesê.
Masondo het gesê die aanstelling van Nkosazana Dlamini-Zuma as AU-voorsitter sou lei tot verhoogde eise vir Suid-Afrikaanse magte in Afrika.
“Ongelukkig is ons deur ons getalle beperk. Indien die versoek goedgekeur word, sal die magte baie reserviste insluit.
“Ons het eenvoudig nie genoeg staandemaglede nie. Ons is reeds oorlaai in Afrika, met honderde van ons troepe ontplooi op ons grense.”
Masondo het gesê groot bedrae geld word tans spandeer op opleiding, en die opgradering van toerusting is ‘n prioriteit.
Mali se regering is tans gewikkel in ‘n gewelddadige konfrontasie met Islamistegroepe wat probeer om die staat omver te werp.
Die regering van die Demokratiese Republiek van die Kongo, saam met die VN, is tans betrokke in bloedige veldslae teen die rebellemagte wat met swaar artillerie en tenks gewapen is.
Die voorgestelde ontplooiing sal oorweeg word terwyl 3000 Suid-Afrikaanse soldate deelneem in ‘n oefening by die gevegsopleidingsentrum in die Noord-Kaap.
