Volgens die antwoord van die minister is drie van die vier patrolliebote nie operasioneel nie weens onderhoud wat op die bote gedoen word. Die ander patrollieboot (Ruth First) word tans gebruik vir opleiding van bemanningslede en is ook nie operasioneel nie. Van die drie navorsingskepe is twee (Africana & Ellen Khuzwayo) nie operasioneel nie, ook weens onderhoud. Een navorsingskip (Algoa) is oorhandig aan die Departement van Omgewingsake en Oseanografiese Opmetings.
“Weens die onvermoë en onbeholpenheid van die minister van Landbou, Bosbou en Visserye, me. Tina Joemat-Petterson, oor die kontrak van Smit Amandla Marine, wat hierdie bote bedryf en die patrollering van die kuswaters gedoen het, is dit nou duidelik dat ons kuswaters vanaf Maart 2012 nie gepatrolleer is nie. Stropery van ons marinebronne kon ongehinderd plaasvind. Dat onderhoud op al die bote en skepe terselfdertyd gedoen moet word, is bewys dat hulle in ‘n swak toestand was. Smit Amandla Marine is miljoene rande betaal om hierdie bote te bedryf en om die instandhouding daarvan te doen. Minister Joemat-Petterson se department het verseker nie behoorlike bestuur en beheer oor die kontrak aan Smit Amandla Marine uitgeoefen nie en getuig van onbevoegdheid,” sê mnr. Pieter Groenewald, die VF Plus se hoofwoordvoerder oor Verdediging en Militêre Veterane.
Die VF Plus sal verdere vrae aan die minister van Verdediging stel oor die aard en onkoste verbonde aan die onderhoud op die bote en minister Joemat-Petterson sal moet verduidelik waarom sy nie voortydig opgetree het om die staat teen addisionele uitgawes te beskerm nie.
