Dit het aan die lig gekom nadat ‘n leerling (13) van Laerskool Impala verlede week Dinsdag deurgeloop het.
Die seun se ma sê haar seun was omstreeks 2nm alleen aan die voorkant van die skool in Van Riebeeckweg met sy tas en sportsak.
Terwyl hy ‘n BBM vir haar getik het, het ‘n man, skraal gebou en ongeveer 1,65m lank, die foon uit die kind se hande geruk en weggehardloop. Dit is later teruggevind.
Die kind is nie aangerand of seergemaak nie, maar is erg getraumatiseerd.
“Hy loop met baie angs en vrees rond en is ook benoud en op sy senuwees,” het sy gesê.
Mnr Theo Gouws, skoolhoof van Impala, het bevestig die seun was buite die skoolhek op pad na sy naskool-tannie, wat hom met enkele minute voor die skool gemis het.
Hy sê die skool het vir die veiligheid van kinders ‘n wag-‘n-bietjie veiligheidsarea aan die binnekant van die skoolterrein by die enigste hek wat na skool oop is, opgerig.
Hulle veiligheidswag sit daar totdat die kinders opgelaai word.
Mnr Roelof Burger, skoolhoof van Hoërskool Kemptonpark, sê kinders van sy skool word weekliks beroof, selfs as hulle in groepe loop. Hulle word meestal van selfone, geld en selfs fietse beroof.
Kaptein Jethro Mthali, woordvoerder van Kemptonpark SAPD, het gesê dit is nie net skoolkinders van hierdie twee skole wat beroof word nie. Rhodesfield en Sir Pierre se kinders loop veral deur in Pretoriaweg, want die rowers “verdwyn” na die stasies.
Mtshali het gesê die skoolkinders word amper altyd met messe aangehou. Die skuldiges is meestal jong mans wat agter die skoolkinders se “gadgets” en selfone aan is.
Tot dusver is die kinders net met messe gedreig en nie gesteek nie.
Mtshali het gewaarsku dat enigiemand wat in die straat loop, hul fone en kosbaarhede moet wegsteek.
