Die uitslae van nadoodse ondersoeke en ander amptelike bewysstukke sal voorgelê word, insluitend ballistiese verslae. Regsverteenwoordigers sal die geleentheid gegun word om die bewyse onder oë te neem, en misdaadtoneel-kenners sal ook getuig.
Die kommissie het gesê die groot hoeveelheid materiaal en bewysstukke maak dit moeilik om te voorspel hoe vinnig die ondersoek sal vorder.
Die ondersoek, wat gelei word deur die afgetrede regter Ian Farlam, is vroeër dié maand uitgestel ná families van 20 van die mynwerkers wat hulle in die Oos-Kaap bevind, Farlam gevra het om hulle ‘n geleentheid te gun om na Rustenburg te reis.
Tydens die skietery by die myn is 34 Lonmin-mynwerkers dood en 78 gewond toe die polisie op 16 Augustus gedurende ‘n staking by Marikana op hulle losgebrand het.
