Verskeie vergaderings die afgelope drie maande tussen Helen Zille, DA-leier, en Britse regeringsamptenare, asook Zille se reis na Londen, het tot die agterdog bygedra.
Ryan Coetzee, ‘n voormalige raadgewer van Zille, is intussen aangestel as raadgewer van Nick Clegg, Brittanje se adjunkpremier. “Daar is iets dieper as wat dit op die oog af lyk en dit moet ondersoek word,” het die ANC-amptenaar gesê.
Nog ‘n regeringsamptenaar meen die verhouding tussen die Britte en die DA lyk soos die Britte se steun vir die MDC in Zimbabwe om ‘n alternatief vir pres. Robert Mugabe te skep sonder om die etniese balans in die land te versteur. Brittanje het Mugabe aktief ondersteun tydens die volksmoord in Matabeleland.
Zille het die agterdog afgelag as ‘n Aprilgekgrap. “Is iemand hier in ‘n parallelle heelal? Of is dit deel van die ANC se voortslepende ‘Zanufikasie’?”
In Londen was sy positief oor Suid-Afrika se toekoms, het sy gesê. Sy het met die hoë kommissaris Zola Skweyiya vergader en “telkens positiewe terugvoering gekry”. Sy het onder meer onderhoude gehad met CNN, die Financial Times en The Economist, waar sy egter die land se vooruitsigte egter as uiters negatief beskryf het.
Die DA se verhouding met Brittanje is “professioneel, soos met alle ander regerings”. Brittanje oefen die grootste invloed op Suid-Afrika uit en het die land dadelik weer by die Statebond ingelyf nadat die ANC die verkiesing in 1994 gewen het. Brian Dube, woordvoerder van die Staatsveiligheidsagentskap, sê die agentskap “word gerig deur ‘n behoefte om nasionale veiligheid te handhaaf kragtens die Grondwet en nasionale wetgewing”.
