‘n Optog na Benoni se munisipale geboue het Woensdag in geweld ontaard en talle voertuie is beskadig. Die organiseerders sê dit moes ‘n vreedsame opmars gewees het, maar het hand uitgeruk en hulle moes noodgedwonge die polisie se hulp vra.
Betogers het polisiebeamptes wat die gebou opgepas het, met stokke en klippe getakel.
Die polisie het rubberkoeëls gebruik om die betogers te verjaag. ‘n Motoris sê sy voertuig is sonder waarskuwing beskadig in die oproer. Hy het gaan inkopies doen en met sy terugkoms ontdek dat sy motorruit uitgeslaan is.
Ongeveer 20 mense is in die geweld beseer wat tot chaos van vlugtendes wat mekaar vertrap gelei het. Dit is nie bekend hoeveel van die betogers in hegtenis geneem is en deur polisievoertuie weggeneem is nie.
Honderde betogers wat terug na ‘n informele nedersetting in die buitewyke van Wattville geloop het, het motors en winkels beskadig.
‘n Sapa-verslaggewer sê minstens vyf motors is erg beskadig deur die oproermakers.
