Die beskadiging van eiendom en aanranding tydens stakings is onaanvaarbaar, het pres. Jacob Zuma gesê.
“Ons moet sulke aktiwiteite ontmoedig. Dis nie goed vir ons land nie,” het die president by die swart sakeberaad in Midrand, Johannesburg, gesê.
“Die regte van werkers en werkgewers word in ons land se wetgewing gewaarborg. Ons het voldoende meganismes om dispute in ons land op te los.”
Zuma sê Suid-Afrika het as gevolg van die voortdurende stakings R4,5 miljard in die goud- en platinum-mynsektore en R180 miljoen in die steenkoolbedryf verloor.
Daar is nagenoeg 75 000 mynwerkers en 20 000 vragmotorbestuurders tans besig om te staak.
“Dis ons verantwoordelikheid om te verseker dat dit nie ‘n krisispunt bereik nie,” het die president gesê.
