Die ANC in Limpopo staan agter adjunk-president Kgalema Motlanthe vir die presidentskap van die party. Die party se provinsiale sekretaris, Soviet Lekganyane. sê die provinsie ondersteun Tokyo Sexwale as adjunk-president en Fikile Mbalula as sekretaris-generaal.
Die benoemings volg na ‘n vergadering van die ANC se provinsiale uitvoerende komitee. Die ANC in Mpumalanga het vroeër gesê hy sal president Jacob Zuma steun as partyleier by die Mangaung verkiesingskonferensie in Desember.
“Ons gaan nie kommentaar lewer nie, aangesien die adjunk-president die korrekte prosedure sal volg,” het Thabo Masebe, sy woordvoerder, gesê.
Paul Mashatile, voorsitter van die ANC in Gauteng, het die naweek gesê die provinsie se uitvoerende komitee sal Motlanthe by die party se konferensie in Mangaung ondersteun.
Gauteng se uitvoerende komitee het Febe Potgieter vir die adjunk-sekretarisgeneraal en Mashatile vir tesouriergeneraal benoem.
Die komitee het Tokyo Sexwale en Nkosazana Dlamini-Zuma vir adjunk-president aanbeveel; Joel Netshitenzhe en Gwede Mantashe vir sektretaris-generaal en Thandi Modise en Naledi Pandor vir nasionale voorsitter.
