“‘n Werklose neef van ‘n NUM-vakbondverteenwoordiger is Saterdagaand in die verteenwoordiger se huis doodgeskiet…” het Lesiba Seshoka, ‘n woordvoerder vir die vakbond, gesê.
Seshoka sê die skieters het vermoedelik die slagoffer vir iemand anders misgis.
“Gewapende mans het skielik by die Marikana-hostel verskyn en onmiddellik op die vakbondverteenwoordiger se neef, wat op ‘n bed gesit het, begin skiet. Die neef is op die toneel dood.”
Volgens die woordvoerder was die vakbondverteenwoordiger ten tyde van die voorval nie tuis nie. Sy neef en ‘n vriend was daar.
Seshoka het bygevoeg dat die vriend die skietery gesien het.
Dit volg nadat ‘n takleier van die vakbond Vrydagaand in sy huis in Marikana doodgeskiet is. Seshoka het dié voorval as ‘n “sluipmoord” beskryf.
