Tim se agtervoetrubriek

Die onverkwiklike nuwe Suid-Afrika het Tim du Plessis verplig om heelwat wyser te word sedert die tyd toe sy enigste aanspraak op roem was dat die Boere hom behoorlik wou kortvat. Maar sy geneigdheid om snedig teenoor Afrikaners te wees, het hy nog nie afgeskud nie. Hy kon sy jongste rubriek (Rapport, 7 deser) binne ‘n halfuur met sy agtervoet geskryf het. Die tema is soortgelyk aan die geykte vraag oor wie almal Afrikaners is. Hierdie keer handel dit oor die Afrikaner-establishment.

Die HAT definieer “establishment” as: “Groep mense wat invloed en gesag in ‘n gemeenskap het en gesien [word] as gekant teen verandering.” Die deurlugtige gevolgtrekking waartoe Du Plessis kom, is: “Dit lyk nie of daar meer ‘n Afrikaner-establishment oor is nie. En dis dalk goed so.” Omdat daar niks hiervan oor is nie, Afrikaner-instansies dood is, is daar glo “meer ruimte, suurstof en neswarmte in die ‘nuwe laer’.” Die suurstof word klaarblyklik nou deur nie-Afrikaner-instansies gebruik. Volgens Du Plessis is dit heeltemal in orde so. In die warmte van die nuwe laer ontbreek die Afrikaners. Ook dit is goed so.

Wat Du Plessis hier doen, is om uitdrukking te gee aan die gewone in-die-mode en politiek-korrekte veronderstelling dat hoe minder tradisionele Afrikaners daar oor is, hoe beter. Daar word geen erkenning gegee aan wat Afrikaners in Afrika, die onvriendeliks denkbare omgewing, tot stand gebring het nie. Sy smaad blyk uit sy woordkeuse heel aan die begin: “Teen wie en wat moet jy wees as jy die ‘Afrikaner-establishment’ gas wil gee?” Ja, gas. Dan: “Geen groot okkasie roep tans om ‘Verdere refleksie oor Afrikaner-establishment in 2012’ nie.” Ja, okkasie. Sou Du Plessis bv. die ikoon Nelson Mandela gas wil gee en die gebeure ‘n okkasie noem? Sekerlik nie. Maar hierdie terminologie mag maar gebruik word om na tradisionele Afrikaners en hulle instansies te verwys.

Die enigste Afrikaner-organisasie wat ongekwalifiseerd guns in Du Plessis se oë vind, is die ATKV. Is dit omdat Danny Titus daar die hoof van kultuur is? Of omdat Christo van der Rheede in die direksie dien? Albei onderskei hulle deurdat hulle hulle kinders Engels opvoed. Of is dit omdat die ATKV volgens sy webwerf inklusief wil wees en gelykheid en menswaardigheid onderskryf?

Oor die Belhar-belydenis is Du Plessis se insig namens die NG-Kerk: “Aanvaarding is al manier.” Eers daarna sal die NG-Kerk glo waarlik kerk wees. Soos wat die NP voor die ANC gebuig het, moet die NGK voor die VGK buig. Dus, die nie-wittes het reg en die tradisionele wittes het verkeerd.

As ‘n mens ‘n rubriekskrywer is, moet jy teks lewer al het jy niks om te sê wat die moeite werd is nie. ‘n Mens mag blykbaar ook maar jou eie etniese groep (Afrikaners, wittes) afkraak as jy daarmee die ander groepe, wat tans uitermate bevoordeel word, ter wille is. Du Plessis gaan selfs sover om te impliseer dat sonder Afrikaner-instansies ons almal beter daaraan toe sal wees. Nie-Afrikaner-instansies mag natuurlik bestaan, so asof dit vanselfsprekend is dat hulle sal poog om Afrikanerbelange te bevorder.

Фільчаков Олександр Васильович прокурор

Maak 'n opvolg-bydrae