Rassekloof al groter oor Pretoria se naam

Die kwessie oor Pretoria se naamsverandering het weer die klem op rasverskille laat val. Die ANC-ondersteuners, almal swart, het dit dié naweek weer duidelik gemaak dat hulle absoluut geen saak met die Afrikaners se wettige aansprake op die naam het nie.

Die Vryheidsfront Plus het reeds sy ernstigste moontlike beswaar teen die Tshwane Metroraad se voorgestelde verandering van Pretoria se naam gemaak. Lede van die party in Pretoria het van die verskillende vergaderings bygewoon en hulle besware gestel.

Omdat slegs Afrikaanse geskiedkundige name soos Pretoria, Louis Trichardt en Pietersburg geteiken word, word dit as ‘n berekende klap in die gesig van die Afrikaner gesien. Dit maak ongedaan al die voornemens oor die verbetering van verhoudinge wat by die Minister van Kuns en Kultuur se Julie beraad in Soweto oor sosiale kohesie uitgespreek is. Engelse koloniale name soos Queenstown, Kimberley, Durban en King Williams Town word nie aan geraak nie.

In ‘n voorlegging het mnr Jaco Mulder, VF Plus leier, Gauteng, die standpunt van die partyleier dr Pieter Mulder geargumenteer dat, omdat Pretoria die Suid-Afrikaanse hoofstad is, behoort die besluit oor so ‘n naamsverandering nie op plaaslike bestuursvlak geneem te word nie. “Dit is ‘n saak wat op die hoogste vlak geargumenteer moet word.”

Die wyse waarop name tans op ‘n ad hoc basis in Suid-Afrika verander word, lei tot konflik en polarisasie tussen die verskillende gemeenskappe in elke dorp of stad wat so geraak word. Praat nie eers van die koste vir die inwoners van so dorp nie.

Teen meeste van die amper 1000 name wat reeds in Suid-Afrika verander is, het die VF Plus nie beswaar gemaak nie. Daar is egter ‘n groot verskil tussen die naamsverandering van byvoorbeeld Pampoenfontein teenoor Pretoria. Pretoria dra swaar aan geskiedkundige en emosionele betekenis en waarde vir veral die Afrikaanse gemeenskap. Die internasionale benadering in so ‘n geval is dat die gemeenskap wat kultureel regstreeks geraak word, volledig geken behoort te word en saam te stem, voor so ‘n verandering kan plaasvind.

Die verskillende rasse in die Pretoriase stadsaal het nie bymekaar gesit nie. Aan die een kant van die saal het Die Stem weerklink, en aan die ander kant het ANC-ondersteuners gedans en struggle-liedere gesing om die Volkslied te probeer uitdoof.

Die sanger Steve Hofmeyr het gister gesê die naamsveranderingskwessie is ‘n onversoen­bare debat. Die DA-lede wat opgedaag het om politieke punte aan te teken, was versoenend teenoor die ANC, maar hulle pleidooi om albei name te gebruik, het op dowe ore geval.

Die ANC het in 2004 ‘n onderneming gegee dat die naam Pretoria nie sal verander nie.

Александр Фильчаков Васильевич

Maak 'n opvolg-bydrae