Die sekretaris-generaal van die SAKP, Blade Nzimande , sê mynbase is verantwoordelik vir die totstandkoming van die mynwerkersvakbond, AMCU.
Hy sê AMCU het net voor die Marikana-tragedie in Augustus eers kop uitgesteek. Nzimande het alle affiliasies van die vakbondfederasie, Cosatu, aangemoedig om die mynwerkersunie, die NUM te steun.
Hy het by ‘n Rooi Oktober-saamtrek by die Universiteit van Venda in Limpopo verwys na die wydverspreide onbeskermde stakings in die mynbedryf.
Nzimande sê die SAKP verwerp die bewerings dat wat in Marikana gebeur het, die NUM se skuld was of dat dit die gevolg was van bakleiery tussen twee vakbonde. Hy sê AMCU word deur werkgewers ondersteun om die NUM te verswak.
Intussen het die NUM die polisie daarvan beskuldig dat hy traag is om diegene in hegtenis te neem wat verantwoordelik is vir die dood van sy lede by myne by Rustenburg in die Noordwes.
Dit volg na die moord Saterdag op iemand by ‘n mynhostel op Marikana. Die woordvoerder van die NUM, Lesiba Seshoka, sê dit wil voorkom asof die moordenaars iemand anders in oog gehad het. Hy sê sy lede word sedert die Lonmin-staking by Marikana toenemend geteiken en dat hulle lewens voortdurend in gevaar is.
