‘n Eertydse misdaadintelligensie-offisier het bevestig dat die Boeremag ‘n skepping van die polisie was, het Rapport berig. Die oud-polisieman het nie kommentaar gelewer oor of die Weermag ‘n rol gespeel het in die sameswering nie.
Kapt. Deon Loots beweer hy was self die werwer en hanteerder van die polisie-agent JC Smit, wat die Boeremag geïnfiltreer en later hoofstaatsgetuie geword het.
Loots sê Smit is in sy huis opgelei in hoe om plofstof te gebruik. Die doel daarvan was om Boeremaglede te inkrimineer.
“Dokument 12”, die sogenaamde meesterplan wat die kern van die saak teen die aangeklaagdes was, en as die bloudruk van die samesweerders beskou word, is deur die polisie self geproduseer.
“Die dokument is sedert die aanvang van die ondersoek op my skootrekenaar aangepas en verander en deur ‘n ander polisieman reggeskaaf. Die dokument het nie onder die regses ontstaan nie, maar is aan hulle opgedis,” het Loots in ‘n beëdigde verklaring gesê.
Hy sê die beskuldigdes, hofselle en konsultasies is afgeluister met die jongste tegnologie wat in die VSA bekom is.
“Ek het persoonlik die monitors dopgehou terwyl die aangeklaagdes die saak en getuienis met hul regsverteenwoordigers bespreek het.”
Hy sê alle inligting is na misdaadintelligensie se hoofkantoor gestuur sodat hulle ‘n teenstrategie kon opstel.
Die totstandkoming van die “ekstremistiese” Boeremag het gesorg dat landelike veiligheid, die hergroepering van die kommando’s en georganiseerde eiendomsaansprake van boere in duie stort, ter wille van versnelde grondhervorming, swart grondaansprake en die nuwe Wapenwet wat eienaars ontwapen het en hul blootgestel het aan voortslepende grusame aanvalle en ongebreidelde misdaad.
Die Afrikaanse mediamonopolie en hul agente het hierdie proses deurentyd gedryf, deur “ekstremistiese” gedrag van Afrikaners te stigmatiseer sonder om die ANC aan dieselfde kritiek te onderwerp, waarskynlik om verloopte Afrikaners en wit NP-soustreinryers binne die ANC te beskerm.
