‘n Tipiese moordslagoffer in die Wes-Kaap was waarskynlik gelem, vol alkohol en was ‘n swart man tussen die ouderdom van 18 en 35, het ‘n koerant berig.
Cape Argus berig dié profiel was die uitslag van ‘n verslag wat die provinsiale departement van gemeenskapsveiligheid saamgestel het. Die verslag verwys na moorde van 2008 tot 2011.
Volgens die koerant het die departement data van lykshuise in plaas van misdaadstatistiek gebruik om die saak te ondersoek.
Gideon Morris, hoofdirekteur van die departement, sê die polisie se misdaadstatistiek verskaf nie gedetailleerde ontleding nie, maar is ‘n goeie aanduiding van wat gebeur.
Luidens die verslag het die provinsie die derde hoogste moordsyfer in die land – 43,4 slagoffers per 100 000 mense – tussen April 2011 en Maart 2012 gehad.
Die meeste moorde is in Nyanga, Gugulethu, Khayelitsha, Milnerton en Mfuleni gepleeg.
Altesaam 87% van die slagoffers was mans. Die helfte van die vermoordes is gesteek, ‘n derde van hulle is geskiet en sowat 17% van die slagoffers het as gevolg van ernstige aanranding of trauma van ‘n stomp voorwerp gesterf.
Cape Argus berig 70% van die oorledenes het positief vir drank getoets.
