Jan Bosman, hoof-sekretaris van die Afrikanerbond, sê die uitlatings deur Holomisa is ‘n aanhitsing tot geweld en omdat hy verwys het na ras, word sy aanmerkings as die verkondiging van haat gesien.
Holomisa het gesê wittes het nie grond van swartes gekoop nie want dit is met geweld deur blankes afgeneem. Hy het die uitlatings op 15 Augustus tydens ‘n gedenklesing vir McGregor Mgolombana in die Oos-Kaap gemaak.
“Ons moet onsself volgende jaar voorberei vir ‘n stryd vir grondhervorming sodat ons nie meer situasies het waar 87% van grond in blankes se besit is en 13% deur swart mense beset word nie,” het Holomisa glo gesê.
Bosman sê vryheid van spraak in die handves van regte sluit onder andere uit die propaganda vir oorlog, aanhitsing van geweld en die verkondiging van haat wat op ras gebaseer is.
“Uitlatings soos hierdie het die potensiaal om misverstaan te word deur ongesofistikeerde mense,” het hy gesê.
Holomisa sê daar is niks in sy uitlatings wat geweld aanhits nie.
“Daar is absoluut niks [in die verklaring] wat die grondwet oortree nie,” het hy gesê.
Holomisa het gesê die staat het nie die geld om grond terug te koop van blankes en dit dan onder swart mense te versprei nie.
“Dus is daar plakkerskampe wat oral oor Suid-Afrika opskiet, want ons het die mense van Afrika versaak.”
Hy het bygevoeg dat elke swart mens geregtig is op ‘n stuk grond sodat individue huise kan bou en kos vir hul families kan produseer.
