Weermag, polisie ontplooi in SA se ergste krisis sedert ’94

Die weermag is Saterdag in Marikana in Noordwes ontplooi om te help om stakende myners te ontwapen. Dit is die ergste krisis in Suid-Afrika sedert die ANC-regering in 1994 aan bewind gekom het.

Swaar gewapende polisielede het vroegoggend op die mynhostel toegeslaan om pangas, messe, knopkieries en stokke te gekonfiskeer. Oproeriges is met traangas en rubberkoeëls verjaag.

Die polisie het die Nkaneng-lokasie met Njalas binnegevaar en ‘n weermaghelikopter het bo die gebied gesirkel waaroor traanrook gehang het. Twaalf mense is in hegtenis geneem vir ‘n “onwettige byeenkoms” en talle is beseer.

Brittanje en Malema se populisme is verantwoordelik vir die gewelddadige mynstakings by Marikana, volgens die ANC. Die party se nasionale werkkomitee (NWK) het ‘n verslag oor die onrus Saterdag in Pretoria aan die leiers voorgelê.

Die NWK het Lonmin, die eienaar van die Marikana-myn, en die Britse media verantwoordelik gehou, en Ramaphosa se uitbuitende rol as arbeidsmakelaar verontskuldig.

“Die klem op Lonmin, wat ‘n Britse mynmaatskappy is, spruit uit die Britse media se aanslag op die Suid-Afrikaanse regering sonder om na die rol van die werkgewer te verwys.

“Dié eng benadering laat ruimte vir die wrewel teenoor swart Suid-Afrikaners – onder wie minderheidsaandeelhouers [waaronder die NUK-lid Cyril Ramaphosa] wat toevallig ook swart is – wat die skuld kry dat hulle alleen verantwoordelikheid dra in die maatskappy.”

Hulle het ook uitgevaar teen Amcu wat teen die ANC se belange optree.

Pravin Gordhan, minister van finansies, het Vrydag tydens ‘n mediakonferensie by die Unie­gebou in Pretoria gesê die opstande hou ‘n bedreiging vir die ekonomie in.

Die land se begrotingstekort kan styg en mense kan hul werk verloor. Beleggersvertroue word ook daardeur ondermyn. Die regering het by dieselfde geleentheid die noodmaatreëls aangekondig om die onrus in bedwang te bring.

Dawie Roodt, hoofekonoom van Efficient Group, sê swakker platinum-uitvoer gaan lei tot ‘n swakker rand. “Wat beteken ons gaan meer betaal vir olie – dan gaan die petrolprys op, inflasie styg, ons sal sit met hoër rentekoerse en groter werkloosheid.”

Rapport berig dat die Duitse nuusblad, die Frankfurter Rundschau, die onlangse gebeure in Suid-Afrika as ‘n “politieke en ekonomiese ramp” ná 18 jaar van ANC-bewind besryf het. “Die ANC het nóg ‘n visie nóg ‘n idee van hoe hy die skerper wordende kloof kan oorbrug,” sê die blad.

Dit is nog nie duidelik wie die ontplooiing van die weermag gemagtig het nie.

Ingevolge die Grondwet mag die president die weermag net ontplooi nadat hy die parlement geraadpleeg het. Die parlement hoef egter nie toestemming te verleen vir die president se uiteindelike besluit nie.

Mac Maharaj, pres. Jacob Zuma se woordvoerder, het Saterdag gesê die besluit om soldate te ontplooi was “operasioneel” en deur Jeff Radebe, minister van justisie, geneem. Die justisiewoordvoerder, het dit egter ontken, berig Rapport.

Олександр Васильович Фільчаков

Maak 'n opvolg-bydrae