Gewelddadige SA, die uitkoms van ‘strategiese spioene’

Soos Willie Esterhuyse in sy boek Endgame (Afr. titel: Eindstryd) spog oor die rol wat hyself en Nasionale Intelligensie gespeel het in die oorgang na “demokrasie”, is groot segmente van die weermag destyds as “diep verdag” gesien weens hul waarskuwings dat oorgawe op geweld sou uitloop. Dat sy teenstanders ongelukkig na 18 jaar reg bewys is, is ‘n skrale troos. Die toekoms vir ons grondwetlike demokrasie lyk allesbehalwe rooskleurig met Malema se kontra-rewolusionêre bedrywighede wat heel moontlik ter ondersteuning van die ANC se binnekameroogmerke geskied.

FW de Klerk het in 1992 ‘n “ondersoek” na die “duistere magte” geloods wat teen totale oorgawe was, ten einde hulle uit te rook, en het summier van senior offisiere in die Weermag ontslae geraak. Dit is allerweë gesien as ‘n suiwering van diegene in die Weermag wat teen sy oorgawe gekant was. Sy stappe het natuurlik tot die rasbewuste eenpartystaat gelei wat Suid-Afrika vandag is.

Gegewe hierdie agtergrond, is dit nie verbasend dat die Suid-Afrikaanse Grondwet tans spesifieke bepalings bevat om mag uit die hande van militêre rolspelers te hou nie. Juis om te verhoed dat die regerende elite, ons nepotistiese politici, bedreig word soos FW destyds was, bevat Artikel 199 van die Grondwet aanbevelings oor die strukturering van veiligheidsdienste.

Om te verseker dat die veiligheidsmagte uit partypolitiek bly, verbied artikel 199 (7) van die Grondwet enige lid van enige veiligheidsdiens om die belange van ‘n politieke party te bevorder.

Alles mooi musiek in die ore van die Grondwetters, wat vergeet het dat die president ook die opperbevelvoerder van die Weermag, die SANW asook van die Suid-Afrikaanse Polisiediens en die intelligensiediens bly. Die president gaan niemand aanstel wie se sienings in konflik met alles wat hy en sy party glo, verkeer nie.

Hierdie politieke beheer oor die SANW word verder deur artikel 202 (2) van die Grondwet onderstreep, wat bepaal dat die bevel oor die weermag in ooreenstemming met die voorskrifte van die minister van verdediging, “onder die gesag van die president ” uitgeoefen sal word.

Praat van volle ANC-beheer oor die veiligheidsmagte! FW kan dus rustig slaap, want die Grondwet is ‘n dokument so na sy hart. Geen lid wat ‘n wapen dra, sal ooit enige politikus in Suid-Afrika bedreig nie.

Die vraag is eerder of die ANC met sulke magshefbome tot hulle beskikking enige opposisie sal duld, maar daaraan het die ywerige Kodesa-onderhandelaars blykbaar nie gedink nie.

In Suid-Afrika is hierdie Grondwetbepalings geen heilsame beginsel nie, want die misbruik van mag kan nie deur skrif gewaarborg word nie. Die meerderheid beskou skrif en grondwetlike beginsels as “wit”, terwyl hulle uit ‘n orale tradisie stam. Het niemand in 1992 daaraan gedink nie?

Burgerlike beheer wat deur politici oor die Weermag uitgeoefen word, waarborg nie dat die minister van verdediging, en ten tweede, die demokraties verkose lede van die Parlemen,t nie ‘n geweldsopsie teenoor minderhede sal kies nie. Dit maak dit juis moontlik, en erger nog: maklik. Na alles, was ons president ‘n opgeleide guerillavegter, nie ‘n leunstoelakademikus nie.

Gerugte dat hy die polisiediens vir partypolitieke voordeel inspan, wil na Marikana ook nie gaan lê nie.

Die lede van die SANW is ook nie veronderstel om apolities te wees sonder enige private oortuigings en idees nie. Wat die Verdedigingswet betref, bepaal artikel 50 (4) van die Wet dat lede van die Weermag vreedsaam en ongewapen kan vergader, optogte kan hou, en plakkaatbetogings en petisies kan ondersteun. Na Malema se raad mag hulle ongetwyfeld luister.

Die militêre ontleder Helmoed Heitman sien uiteindelik die skrif aan die muur dat sulke optrede ‘n “staat kan destabiliseer en die weermag kan demoraliseer”. Hy noem selfs sedisie as ‘n gevaar. Nie dat Malema oor sedisie gepla is nie. Heitman bekommer hom waarskynlik dat dit wit sedisie sal aanwakker as Malema die soldate kry om wittes aan te val.

In elk geval, sedisie kan slegs gepleeg word op ‘n onwettige byeenkoms. Dit word gepleeg wanneer ‘n groep mense bymekaar kom op ‘n onwettige byeenkoms met die bedoeling om die gesag van die staat deur die verontagsaming of ondermyning van daardie gesag uit te daag.

Dit verskil van hoogverraad, wat die voorneme om die staat omver te werp, vereis. Dit verskil ook van blote kritiek op die regering van die dag of die leierskap. En van hoogverraad gepraat. Die beskrywing pas baie goed by wat FW de Klerk en sy intelligensieraadgewers gedoen het tydens wat Esterhuyse ‘n “strategiese verspiedersrol” noem.

 

Данильченко

Maak 'n opvolg-bydrae